DIE verleidings is groot as jy ’n tiener is: CD’s, selfoontyd, tydskrifte, flieks, klere, die jongste rekenaarspeletjies. Soveel dinge om te koop, so min sakgeld! Maar hoe jy nou met jou geld werk, kan die grondslag lê vir hoe gesond jou geldsake vorentoe in jou lewe gaan wees. Hier is wenke waarby beide tieners en ouers kan baat.
Wenke aan tieners:
- Begin met ’n begroting. Hou dagboek van al jou uitgawes in die loop van een maand – veral ook aan kleinighede soos koeldrank. Vergelyk dit met jou inkomste, soos sakgeld en verjaardaggeld. Gee jy alles uit? Of sit jy geld opsy om doelwitte op lang termyn te bereik, soos om vir jou matriekvakansie of ’n MP3-speler te spaar? Dit is ’n dissipline wat jy nou al moet aanleer as jy groot dinge wil bereik. Werk ’n bestedingsplan uit wat uiteensit hoeveel jy elke maand kan uitgee op byvoorbeeld ontspanning en eetgoed, en hoeveel jy moet opsysit.
- ‘‘Saamgestelde rente’’ is ’n frase wat jy moet leer ken. Hoe vroeër jy begin spaar, hoe vinniger gaan jou geld groei omdat rente voortdurend bereken word op die rente wat reeds opgeloop het. Byvoorbeeld, as jy R1 000 per jaar spaar vanaf die ouderdom van 15 tot 25 en dan ophou, sal dit (teen rente van 7 persent per jaar) amper R170 000 werd wees wanneer jy 60 is. Maar as jy eers op 25 begin en 35 jaar lank jaarliks R1 000 spaar, sal dit minder as R148 000 werd wees wanneer jy 60 is.
- Kry ’n naweek- en vakansiewerk. Dit maak jou nie net onafhanklik van jou ouers nie, maar jy kan dalk interessante mense ontmoet en ondervinding opdoen wat jou met jou loopbaan kan help.
- Moenie jou deur duur handelsmerke laat verlei nie: Die honderde rande wat jy meer betaal vir ’n gewilde naam, beteken nie noodwendig beter gehalte nie. Wees ’n individu en kies jou eie koers – ook wanneer dit by klere koop kom.
Wenke aan ouers:
- Begin so vroeg moontlik met jou kinders oor geld praat. Dis belangrik dat kinders besef niemand kan (of moet) alles kry wat hul hart begeer nie, sê Joan Eastwood, ’n private maatskaplike werker van Kaapstad wat ouerleiding gee. Dit beteken nie ouers moet outomaties elke begeerte van ’n tiener weier nie – dit is afbrekend en sal net vyandigheid veroorsaak, sê Joan. Maar as jy daaroor nagedink en nee gesê het, bly by jou besluit.
- Praat met ander ouers van kinders van dieselfde ouderdom om ’n billike bedrag vir sakgeld vas te stel. Dit werk die beste as kinders weekliks sakgeld kry en dit tot uitgawes vir eetgoed, flieks en geskenke beperk is, meen Joan. ’n Kleretoelae werk minder goed. Dis dikwels nie groot genoeg nie en dan moet ouers in elk geval opdok vir skoene, baadjies en aandklere – wat verwyte aan albei kante kan veroorsaak. As jy ’n kleretoelae gee, moet dit duidelik wees waarvoor die geld alles gebruik moet word.
- Moenie te veel geldreëls maak en te groot verwagtings van jou kinders koester nie, sê Joan. Gun hulle die relatiewe vryheid om met hul sakgeld en verjaardaggeld eetgoed, dinge vir hulself en geskenke te koop. Dit sal ook vrygewigheid en die vreugde om iets vir iemand anders te kan koop, aanmoedig. Ouer tieners moet egter aangemoedig word om te spaar en te belê, veral wanneer hulle hul eie geld verdien deur vakansie- of naweekwerk te doen.
- Moenie jou tieners geld gee in ruil vir werk in die huis en tuin of as beloning vir ’n prestasie nie, sê Joan. Die gevoel van bevrediging wanneer iets bereik en afgehandel is, moet genoeg wees. Dit vestig ’n ongesonde patroon as jou tiener altyd geld as beloning verwag.
- Help jou kinders om ’n bank-rekening te open en help hulle spaar deur saam beleggingsopsies soos spaarrekenings, aandele en effektetrusts te verken. As jy aan jou kind geld leen, hou dit formeel en laat hom ’n ‘‘kontrak” onderteken wat sê hoe hy dit gaan terugbetaal.
Bron: Huisgenoot argiewe