Justin Bieber se ma vra mense moet vir haar seun bid ná bewerings hy gebruik dwelms en het gedragsprobleme.
Pattie Mallette, wat sterk geloofsoortuigings het, is bekommerd oor die welstand van die 19-jarige sanger. Sy meen roem is die hoofoorsaak van sy swak gedrag.
Sy het gesê: “Ek dink baie mense betree die vermaakbedryf met ’n goeie Christelike agtergrond en die regte sedes en dan word hulle op die een of ander manier beïnvloed.”
Sy het bygevoeg: “Ek vra dat mense dink aan my en Justin. Ek bid elke dag vir hom.”
Maar Pattie, wat Justin gehad het toe sy maar 17 was, het ook al ’n stryd teen dwelms gevoer, en verkwalik die Believe-sanger nie vir sy gefuif en botsings met die gereg nie.
Volgens The Sun het Pattie een aand uit in Houston gesê: “Ek het myself met dwelms en drank begin behandel.
“Alles het breekpunt bereik toe ek op 17 probeer selfmoord pleeg.
“Mense het my onder druk geplaas om ’n aborsie te kry. Maar ek het ’n baie sterk gevoel gehad dat ek reg optree. Dit was die beste besluit van my lewe.
“Ek bid dat dit wat met my gebeur het, met almal sal gebeur, met mense wat met pyn, depressie en hopeloosheid worstel.
“As Justin sukkel, moet hom nie skop wanneer hy lê of hom veroordeel nie; bid vir hom.”
Justin het glo die naweek R825 000 in ’n ontkleeklub bestee en die polisie het verlede week sy huis in Calabasas, Kalifornië, deursoek nadat bure hom van ’n eiergooiery beskuldig het.