Kos maak vir jou gesin gaan soms blitsig, en daar is nie aldag tyd om aan gesonde kos te dink nie. Hier is ’n paar goeie opsies vir gesonde geregte wat min tyd verg. Begin die jaar met hierdie gesonde en maklike maaltye.
’n Gesonde leefstyl (wat dieet insluit) kan die risiko verlaag van byvoorbeeld hartkwale, diabetes, kanker en vetsug. Wanneer mense lang ure werk, skeep hulle dikwels hul dieet af en oefen nie. Hulle is ook geneig om te veel rommelkos of restaurantetes te geniet. Tog hoef vinnige, maklike maaltye vir jou en jou gesin nie kitskos te wees nie.
Blitsige ontbyt
Ontbytgraan wat baie vesel en min vet bevat, met laevetmelk of jogurt plus ’n vrug (geen kos is so vinnig soos vrugte nie).
Vinnige middagetes
Toebroodjies gemaak van heelkoringbrood (vir ekstra vesel), volkoringbeskuitjies (drie is gelyk aan een sny brood), rogbrood of brood met heel koringkorrels, gerolde koring en hawermout, met ’n lae GI vir volgehoue energie.
Kies gesonde, heerlike vulsels:
Hoender sonder die vel, tuna in soutwater, laevet- of vetvrye maaskaas, laevetkaas soos mozzarella of laevet-Edam (wat 50kJ minder bevat as cheddar per 30g wiggie), gekookte eier, grondboontjiebotter, vrugte en groente soos pynappel, tamatie, komkommer, soetrissie, blaarslaai, sampioene of keker-ertjies.
Eenvoudige, vinnige aandetes
Wanneer jou tyd beperk is, kan jy ná werk op pad huis toe vinnig iets gryp by die supermark of deli. Onthou net om ’n proteïen, koolhidraat en baie groente of ’n slaai in te sluit vir ’n gebalanseerde maaltyd.
Gesonde keuses is:
- Geroosterde hoender, vis of maer rooivleis. Probeer hoender of vis kies – geen beslag, krummels of diepbraai nie – minstens drie keer per week. Vir ’n gesonde maaltyd, voeg by ’n slaai, gebakte of gekookte aartappel en groente.
- Olieryke vis (soos geblikte tuna, sardiens en sardyne) is ryk aan omega-3-vetsure, wat goed is vir die hart; stokvis in ’n beslag is nie.
- Pasta met ’n tamatiesous in plaas van room.
- Gebakte aartappel met laevet-maaskaas en slaai. Vermy vetterige vulsels (met kaas, spek of ham). Gebruik eerder fyngekapte ui, geblikte tuna en n teelepel soet sojasous of soet rissiesous vir byt.
- Groenteroerbraai. Supermarkte verkoop ’n verskeidenheid pakke gekapte groente, wat n voorbereidingstyd van drie tot vier minute het.
Beter keuses vir kitskos
- Die voedselbedryf is onder druk om gesonder maaltye te bedien. Kies maaltye met groente of slaai. Vra vir gesonder opsies.
- Vermy diepgebraaide voedsel, wat ryk is aan vet en transvetsure wat cholesterolvlakke verhoog. Hou by gestoomde, gekookte, gebakte of geroosterde kos.
- Vermy romerige souse – eet eerder ’n Hawaise burger met groen slaai en ’n mielie as ’n burger met romerige groenrissiesous en skyfies.
- Probeer ’n vlamgeroosterde hoenderfilet en slaai liewer as ’n dubbelkaasburger en skyfies.
- Soesji is ’n gesonde keuse omdat olieryke vis goeie omega-3-vetsure bevat en dit nie gebraai word nie. Hoewel items wat toegedraai is in lae tuna en avokado dalk meer vet bevat as ander soesji, vergelyk hulle goed met ander kitskosse. Maki-wieletjies met tuna of komkommer bevat selfs minder kilojoules en vet.
- Deel ’n pizza en eet dit met ’n vars groenslaai om yslike porsies te vermy.
- Vermy gaskoeldranke, pasteitjies, burgers, worsbroodjie en skyfies.
- Bly weg van supergroottes!
Deur Irene Labuschagne, hoofdieetkundige van NICUS