Maak seker jou kar is voldoende verseker – of jy kan ’n onaangename verrassing kry wanneer jy probeer eis.
Hoekom kan eise afgewys word?
- Voertuie is onpadwaardig en nie in ’n goeie toestand nie – veral as onpadwaardigheid bydra tot die ongeluk.
- Jou rybewys het verval – want dan bestuur jy onwettig.
- Jy was dronk of bedwelm agter die stuur en het ’n ongeluk gemaak. In so ’n geval kan maatskappye jou ook enige toekomstige dekking weier, of jou bybetaling en maandelikse premie heelwat verhoog.
- Iemand wat nie ingevolge jou korttermynversekeringspolis ’n benoemde bestuurder is nie, was agter die stuur. Vra jou versekeraar eers of hulle ad hoc-gebruik van jou voertuig toelaat as die persoon ’n geldige rybewys het en al die voorwaardes van die polis nagekom word.
Wat gebeur as jy nie al jou premies tot op hede betaal het nie?
Volgens die wet het jy net 15 dae grasie van die dag dat die premie betaal moes gewees het om ’n plan te maak. In praktyk is baie versekeraars darem tegemoetkomend, sê Lizette Erasmus van IntegriSure. Sy verduidelik debietorders is meestal betaalbaar op die eerste dag van die maand. Dit beteken dus dit moet vooruitbetaal word.
Die versekeraar sal jou laat weet as jou premies onbetaald is. Hulle sal dan met jou ooreenkom om op die eerste dag van die volgende maand albei premies in te vorder.
Jou dekking vir die onbetaalde maand sal dus in plek bly. Maar as die daaropvolgende debietorder ook nie betaal word nie, sal die versekeraar die polis terugwerkend kanselleer tot op die laaste betaalde maand. Enige verlies of skade daarna sal dus nie gedek wees nie.
Wenke vir suksesvolle eise
- Meld enige ongeluk binne 24 uur by die polisie aan en gee jou versekeraar alle besonderhede.
- Kry die derde party se besonderhede, soos die voertuigmodel en registrasienommer, asook die bestuurder se identiteitsnommer, kontakbesonderhede en versekeringsmaatskappy.
- Neem foto’s van die toneel. Dit kan as bewyse vir versekeringseise dien. Kry ook die persoonlike inligting van ooggetuies (selfs die wegsleepdiens).
- Bel jou versekeraar en vra of hulle ’n goedgekeurde wegsleepdiens sal stuur en of dit jou dekking gaan beïnvloed as jy self ’n een kies.
- As jy tot ’n organisasie soos die AA behoort, of jou motorvervaardiger se voorkeurdiensverskaffer moet gebruik, bel hulle vir wegsleepdiensinligting.
Wat kos dekking?
Hierdie is ‘n voorbeeld van iemand wat 50 jaar oud is, ’n voertuig van R100 000 besit, in die Wes-Kaap woon en kwalifiseer vir ’n volle geeneisbonus:
- Derde party alleen: Net die ander voertuig of eiendom wat jy beskadig, word gedek. Maandelikse premie: R18,55.
- Derde party, brand en diefstal: ’n Ander party se skade en brandskade aan, diefstal of poging tot diefstal van jou voertuig word gedek. Maandelikse premie: R135,55.
- Omvattende dekking: Die ander party se skade, asook die skade aan jou voertuig, brandskade, diefstal of poging tot diefstal, enige ongelukskade of toevallige gebeurtenisse soos storms, vloede, hael of kwaadwillige beskadiging word gedek. Maandelikse premie: R250.
Onthou: Dis belangrik om te vra wat omvattende dekking insluit voor jy ’n versekeringsmaatskappy kies. Sommige versekeraars dek byvoorbeeld nie outomaties enige haelskade nie. Vergelyk die bybetalings van verskillende maatskappye, asook die voorwaardes gekoppel aan uitgebreide dekking.
Wenk: Kry altyd ’n verwysingsnommer en die kontakinligting van die wegsleepdiens en paneelklopper voor jou voertuig weggesleep word.