Verskeie tegnieke en oorweldigend baie inligting bestaan oor hoe om te mediteer, sê dr. Simon Whitesman van die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal. “Dit is nie noodwendig sleg nie, want almal se doelwit is min of meer dieselfde.” Die meditasiefasiliteerder Dina Cramer
stem saam. “Die kerndoel is om jou gedagtes rustig te kry. Daar is nie ’n regte of verkeerde tegniek nie; as dit jou beter laat voel en jy mediteer konsekwent, doen jy dit reg,” sê sy.
STAP 1 Kry ’n stil plek waar jy 10 tot 20 minute lank gemaklik op die vloer met jou rug teen ’n muur kan sit of op ’n stoel met ’n regop ruglening.
STAP 2 Kies ’n meditasie-anker om op te fokus. Dit kan jou asemhaling (’n goeie keuse, want diep asemhaling help jou ontspan) of ’n kersvlam of blom wees, enigiets waarheen jy jou gedagtes kan terugbring as dit veroordelend of vol bekommernisse word.
STAP 3 Maak jou oë toe en sit stil. Jou gedagtes kan natuurlik afdwaal – na wat jy vir aandete wil maak, die verslag wat jy moet klaarmaak, ’n gesondheidsprobleem. “Jou doel met meditasie is nie om aan ‘niks’ te dink nie, maar om te besef wat jou gedagtes is asof jy hulle waarneem en dan, sonder om hulle te beoordeel of daarin verstrengel te raak, sagkens weer op jou anker toe te spits, ” sê Simon. Erken dus jou gedagtes, maar moet amper nie by hulle betrokke raak nie, bevel hy aan. Wees ’n nuuskierige waarnemer wat ’n interessante reis deur jou liggaam en gedagtes onderneem. “Die idee is om te besef jy hoef nie op jou gedagtes en emosies te reageer of deur hulle aangedryf te word nie; dat jy jou daaglikse lewe kan lei vanuit ’n ruimte waarin jy doelbewuste keuses kan maak,” sê Dina.
STAP 4 Wees geduldig. “Nes fiksheid, verg meditasie oefening. Jy word nie fiks van net een gimbesoek nie,” sê Simon. “Aanvanklik sal jou gedagtes afdwaal en jou aandag maklik afgelei word; jy sal selfs gefrustreerd raak. Maar mettertyd en met oefening sal jy verbeter tot jy eendag ’n volle meditasie sal kan ervaar waartydens jou gedagtes en liggaam ontspanne en kalm is en dit voel asof jy ’n staat van saligheid bereik het,” sê Dina.
STAP 5 Onthou om te let op die veranderings wat vanweë jou meditasie in jou alledaagse lewe plaasvind. “Ek het al baie drastiese veranderings by mense gesien,” sê Simon.
“Ek weet van iemand wat met chroniese pyn saamgeleef het en wat haar pyn nou so bestuur dat dit haar nie meer verlam nie. “Ek het nog nooit iemand teëgekom wat nie kalmer, minder reaktief, doelgerigter en ’n nuwe mens gevoel het nie nadat hulle ’n ruk lank gemediteer het.”