Justin Bieber is die eerste mens wat kan spog met 40 miljoen volgers op Twitter.
Die sanger het in 2009 by die sosiale netwerk aangesluit en nou sterre soos Lady Gaga en Taylor Swift geklop om die mylpaal met sy Twitter-blad, @justinbieber, te bereik.
Hy het geskryf: “#40millionstrong” voor hy later bygevoeg het: “#40millionBeliebers – dankie. Ek is lief vir julle. #grateful.”
Dié Twitter-rekord kom kort nadat die akteur Channing Tatum gesê het hy is bekommerd oor die 19-jarige sanger. Channing (33) meen die sanger, wat op 14 ontdek is, het te jonk beroemd geraak en hoop hy raak nie die pad byster soos met baie ander kindersterre gebeur nie.
“Ek glo jy bly altyd daardie ouderdom waarop jy roem verwerf het. Ek is bekommerd oor Bieber. Daardie outjie is uiters talentvol. Ek hoop nie hy raak soos baie jong kinders die pad byster nie omdat dit moeilik kan wees vir iemand om verantwoordelik te wees as hulle nie daarvoor gevra het nie.”