Arme Dylan Sprouse. Die 21-jarige akteur wat bekend is as Zack Martin in die Disney-kanaal se reekse The Suite Life of Zack & Cody en The Suite Life on Deck, is die jongste bekende wat onder ’n kaalfoto-skandaal deurloop.
Twee selfies wat die gewese Disney-ster geneem het, het Sondag op die blog-webwerf Tumblr opgeduik. Op een poseer hy in ’n boksbroekie voor ’n badkamerspieël terwyl hy sy spiere bult en op nog een is Dylan poedelkaal terwyl hy sy geslagsdele vashou.
Hy het intussen bevestig dis hy op die foto’s. “Oeps, ek is duidelik nie meer 14 en vet nie,” het hy met ’n rooi gesig getwiet. “Ek het drooggemaak . . . maar ek sal ’n gek wees as ek nie dit erken nie. Jy moet aanbeweeg, meen ek.”
Hy het later op sy Tumblr-profiel gesê: “Ek dink nie wat ek gedoen het, was verkeerd nie. Ek was trots op my vordering in die gim; ek het gedink ek lyk sexy en wou dit deel.”
Sy enigste fout was dat hy dié stomende foto’s na die “verkeerde persoon” gestuur het, skryf hy. Hy het dit glo vir ’n eks gestuur en dié het toe die foto’s uitgelek.
Dylan is tans ’n student aan die New York-universiteit en is ’n videospeletjie-ontwerper. En wat sê sy beroemde tweelingbroer, Cole Sprouse, oor sy broer in sy Evasgewaad pronk op die foto? “Dis koud in daardie badkamer né?” het Cole skertsend getwiet. Dylan het hierop geantwoord: “Lief vir jou ook.”
’n Bron na aan Dylan sê hy is desperaat om weer toneel te speel, want hy wil nie vir die res van sy lewe tafels bedien in New York nie. Die kaalfoto’s sal beslis hom help om van sy heilsame Disney-beeld ontslae te raak en plaas hom weer in die kollig, meen Daniella Cracknell, ’n voormalige televisie-publisiteitsagent.
En dit het duidelik gehelp. Dylan het intussen 200 000 nuwe aanhangers op Twitter, 40 000 op Tumblr en 20 000 op Instagram bygekry.
Hy is nie al Disney-ster wat al in die moeilikheid was oor naak kiekies nie. In 2007 het daar ook kaalfoto’s van die High School Musical-ster Vanessa Hudgens, wat toe 18 was, die ronde gedoen. Hopelik het Dylan nou sy les geleer!
BRONNE: EONLINE.COM, SHOWBIZSPY.COM