Hardnekkige gerugte doen die afgelope week in die media die ronde dat Heni van Breda, een van die bylmoord-oorlewendes, spoorloos verdwyn het en soek is.
Luidens onlangse berigte is Henri laas in Klerksdorp gesien en monitor die polisie hom deurgaans. The Citizen het vanoggend (30 April) berig dat die 20-jarige nou heeltemal van die radar af verdwyn het en dat die polisie tans verwoede na hom soek. Hulle doen glo navraag by al sy nabye vriende en familie oor waar hy hom bevind.
Ondanks hierdie berigte het Henri se prokureur, Pieter Botha, sy sogenaamde verdwyning afgemaak as net gerugte.
“Sover ek weet, is my kliënt in die Kaap by familielede en word hy geensins gemonitor nie, soos beweer word. As die polisie my kliënt (Henri) wil spreek, kan hulle dit enige tyd doen,” het hy aan Huisgenoot gesê.
Kapt. Frederick van Wyk van die SAPD het gesê hulle weier om op enige bespiegelings in die media te reageer oor waar Henri hom bevind.
Henri en sy suster Marli (16) van Breda is al oorlewendes ná ’n gru-aanval op hul gesin op Stellenbosch.
Hul pa, Martin, ma, Teresa, en broer, Rudi (22), is in die aanval met ’n byl doodgemaak. Marli het ernstige kopbeserings opgedoen en is onlangs uit ’n rehabilitasiesentrum ontslaan. Sy sterk aan by familievriende in die Kaap.
Henri het tydens die aanval net merke aan sy arms opgedoen.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
- Joanie Bergh