Die gemeenskap van Plettenbergbaai het opgeruk na die landdroshof waar ’n 37-jarige rekenaar-ingenieur weer voorgekom het op aanklagte van die beweerde verspreiding van kinderpornografie, waarin babas onder meer gemartel en selfs oënskynlik voor die kamera vermoor word.
Rekenaarman van Plett weer in hof oor kinderporno.
http://t.co/vlpBDiMCiu pic.twitter.com/5e96XhCU8a
— Netwerk24 (@Netwerk24) April 22, 2015
Hy was glo lid van wêreldwye netwerk pedofiele wat hierdie beeldmateriaal op die internet onder mekaar versprei het.
’n Groep van sowat 40 betogers was vandag in die hof met rooi geverfde hande om protes aan te teken dat hy weer op borgtog vrygelaat word.
‘In die eerste 10 minute dat ons op sy profiel was, het ons meer as 3 000 brokkies beeldmateriaal afgelaai. Wat ek gesien het, was suiwer boosheid…’
Maar die saak is tot 12 Mei uitgestel vir ’n verhoordatum sodat dit na die streekshof op Knysna oorgeplaas kan word. Sy borgtog van R10 000 is verleng tot met sy volgende verskyning.
Hy is in Januarie in hegtenis geneem tydens ’n klopjag waartydens die Suid-Afrikaanse polisie saamgewerk het met die Belgiese polisie, wat hierdie kinderpornografie-nes vanuit hul land oopgekrap het. Die FBI van Amerika het ook saam met hulle aan die klopjag deelgeneem.
“Dis die ergste waarop ons al afgekom het,” het die Belgiese polisieoffisier hoof-inspekteur Tim van Eester vroeër in ’n radio-onderhoud vertel. “Dis die eerste keer dat ons sulke mishandeling van babas gesien het,” het hy bygevoeg.
“In die eerste 10 minute dat ons op sy profiel was, het ons meer as 3 000 brokkies beeldmateriaal afgelaai. Wat ek gesien het, was suiwer boosheid,” het hy bygevoeg.
“Ons het erger strawwe nodig,” meen Germaine Vogel, woordvoerder vir die nasionale aktivistegroep Women and Men Against Child Abuse wat ook verteenwoordigers by die hof gehad het.
Sy sê as iemand aangekla word weens die vervaardiging van sulke beeldmateriaal, kan hy aan verkragting skuldig bevind word en jare tronkstraf kry. Daar is egter geen voorgeskrewe straf vir iemand wat die beeldmateriaal versprei nie. Hul groep glo so iemand moet ten minste aangekla word as medepligtige wat misdaad aanmoedig.
“Om kinderpornografie af te laai moet as ’n ernstiger misdaad beskou word,” sê Germaine. Elke prentjie of video is ’n misdaadtoneel, meen sy.
Die groep betogers wat vandag in die Plettenbergbaaise hof was, gaan Vrydag Port Elizabeth toe waar ’n man en vrou in verband met die beweerde besit en verspreiding van kinderpornografie voorkom.