’n Uiltjie knip, middagslapie of skuins lê, hoe jy dit ook al noem, wie hou nou nie van ’n kort slapie af en toe nie?
Of jy nou voorberei op ’n groot aand uit of net jou oë rus terwyl jy op die rusbank lê, ’n slapie is soms presies wat jy kort. Jy kan nou met gemak rus, want in nuwe navorsing is bevind ’n driekwartier lange slapie kan jou geheue tot vyfvoudig verbeter.
Wetenskaplikes aan die Universiteit van Saarland in Duitsland het bevind kort slapies kan mense inligting help behou wat hulle geleer het, en die herroeping daarvan aansienlik verbeter. Dis goeie nuus vir leerders en studente wat sukkel met hersiening.
‘Jy kan nou met gemak rus, want in nuwe navorsing is bevind ’n driekwartier lange slapie kan jou geheue tot vyfvoudig verbeter.’
Die span kenners het die deelnemers in twee groepe verdeel en elkeen 90 enkele woorde en 120 onverwante woordpare, soos “melk taxi”, laat leer. Een groep het toe ’n DVD gekyk terwyl die ander geslaap het. Die groepe is toe op die woorde getoets: Dié wat geslaap het, het meer woordpare onthou. Die resultate is in die vaktydskrif Neurobiology of Learning and Memory gepubliseer. Navorsers lewer daarin kommentaar op oplewings in breinaktiwiteit tydens slaap wat ’n belangrike rol speel in die berging van nuut aangeleerde inligting.
Prof. Axel Mecklinger sê selfs net ’n driekwartier tot uur lange slapie kan geheue vyfvoudig verbeter. “Die geheueverrigting van die deelnemers wat ’n uiltjie geknip het, was ewe goed as voor hulle geslaap het, en dit is onmiddellik nadat hulle die leerfase voltooi het. Die geheueverrigting het nie verbeter in die slaapgroep met betrekking tot die vlakke net ná die leerfase nie, maar tog konstant gebly,” het hy gesê.
“’n Kort slapie op kantoor of skool is genoeg om leersukses aansienlik te verbeter. Waar mense ook al in ’n leeromgewing is, moet ons ernstig dink aan die voordele van slaap. Die verbetering van inligtingherroeping danksy slaap vereis nie van ons om lywige boekdele onder ons kussing te prop nie. ’n Gekonsentreerde tydperk van leer, gevolg deur ontspannende slaap, is genoegsaam.”
© Cover Media