Hoewel hy nog nie eers drie jaar oud is nie, wys Danie van der Spuy van Port Shepstone aan die KwaZulu-Natalse suidkus reeds watter kranige gholfspelertjie hy is.
Dié jongman slaan al balle rond vandat hy ses maande oud is, vertel sy ouma, Rita van der Spuy. “Hy was van kleins af baie lief vir balle slaan,” sê sy. “Hy kon nog nie eens loop nie, toe het hy klaar teen meubels begin opstaan en balletjies met sy plastiekstok probeer raak slaan.”
Ouma Rita vertel trots dat sport nog altyd deel van die familie was. “Op my dag het ek provinsiale netbal gespeel en Danie se ma, Danieta, ook.”
‘Selfs al word dit donker en ek sit en kyk sepies, slaan hy nog die balle rond!’
Danie woon saam met sy ma en ouma. Hulle vertel Danie vat amper daagliks sy gholfstokke en gaan slaan ’n bal af in die tuin. “Selfs al word dit donker en ek sit en kyk sepies, slaan hy nog die balle rond!”
Ouma Rita het besef sy kon dié ontwikkelende talent nie net daar laat nie. “Toe ek begin besef Danie hou meer daarvan om gholf op televisie te kyk as tekenprente, toe weet ek: Hier kom die volgende Ernie Els.”
Sy het toe ’n plaaslike afrigter, Willie Lindeque, genader en gevra of hy dalk sou kans sien om vir klein Danie gholflesse te gee.
Aanvanklik was Willie skepties. Hy het immers nog nooit so ’n jong kind afgerig nie. Maar hy het ingestem dat hy sal kyk hoe Danie speel en dan besluit.
Groot was sy verbasing toe Danie twee perfekte houe ná mekaar afslaan. Sy oë het groot gerek en hy het vir Rita gesê: “Dié mannetjie wil ek asseblief afrig!”
Willie speel self al 20 jaar gholf en rig dit al meer as ’n jaar professioneel af. Nog nooit het hy soveel rou talent gesien as Danie s’n nie.
‘Hy slaan die bal soos ’n grootmens.’
“Hy slaan die bal soos ’n grootmens,” vertel hy.
“Dit is bitter min dat jy enigiemand kry met soveel talent, wat nog te sê van iemand so jonk. Danie doen reeds goed wat volwassenes eers ná 10 lesse bemeester.”
Willie gee nou elke Vrydag vir Danie ’n halfuur lange gholfles.
“Dit is veronderstel om van half drie tot drie uur te wees,” vertel Willie, “maar hy hang nog op die gholfbaan rond tot ek klaar is met my laaste les vyfuur. Sy ma en ouma moet hom omtrent smeek om huis toe te gaan! ”
Voorwaar ’n voorgee om dop te hou.
- Petrus Malherbe