‘n Ondersoekbeampte in Indonesië het Donderdag gesê dat die medevlieënier aan die stuur van die AirAsia-vliegtuig was wat verlede maand in die see gestort het.
“Die medevlieënier was die vlugvlieënier, terwyl die kaptein die kontrolevlieënier was,” het Mardjono Siswosuwarno, ondersoekbeampte by die Nasionale Vervoerveiligheidskomitee, aan DPA gesê.
Volgens Mardjono was die vliegtuig lugwaardig en “binne die grense van die gewigs- en balansvereistes”.
Vlug QZ8501 was op 28 Desember van Surabaya, Indonesië, onderweg na Singapoer toe dit in die Javasee neerstort. Al 162 mense aan boord het omgekom.
- Sapa