Robert Pattinson maak glo reg om vir sy meisie, FKA Twigs, die jawoord te vra. Die voormalige Twilight-hartebreker en die sangeres het middel verlede jaar begin uitgaan en glo onlangs saam ingetrek.
En nou lyk dit of die Britse ster die volgende stap wil doen. “Hy is dol verlief en was nog nooit so seker oor enigiets nie,” het ’n vriend aan die Amerikaanse OK! Magazine gesê. “Hy soek ’n verloofring en wil dit op Valentynsdag aan haar vinger steek.”
Robert (28) het glo sy meisie Engeland toe geneem om sy familie te ontmoet, en nadat hulle die verhouding goedgekeur het, is hy nou gretig om te trou en FKA se ontluikende sangloopbaan te ondersteun.
“Hy wil trou en in Engeland nesskop en daarop konsentreer om aan kleiner, indie-flieks te werk,” sê die bron. “Hy is meer as gewillig om haar loopbaan te ondersteun en wil ’n tuisblypa wees as hulle kinders het.”
En terwyl Robert die lokettreffers wil groet waarvoor hy bekend geword het, is sy 26-jarige meisie se loopbaan besig om vlam te vat. Sy het onlangs in Vogue verskyn en ’n bostuklose fotosessie vir die tydskrif V gedoen.
Rob se vriende het ook gesê hy moet dit rustig vat. “Sy vriende het vir hom gesê hy moet effens bedaar, want hy oorweldig haar,” het ’n bron aan RadarOnline gesê. “Maar hulle bly saam. Dis ’n ernstige verhouding.”
© Cover Media