Die model wat sê hy is die pa van Kourtney Kardashian se seun het haar voor ’n ultimatum gestel.
Michael Girgenti, wat beweer hy het in 2008 onbeskermde seks met haar gehad, het die werklikheidstelevisiester gedagvaar en vra haar glo in ’n emosiebelaaide brief vir ’n DNS-toets.
Volgens die webtuiste RadarOnline.com het hy in die brief, gedateer 23 April, geskryf: “Dis nie my bedoeling om die familie wat jy met Scott (Disick, haar lewensmaat) het skade te berokken nie. Maar terselfdertyd verdien Mason om die waarheid te weet. Ek verseker jou ek neem nie pa wees ligtelik op nie. Ek sal ’n wonderlike pa vir Mason wees.”
Hy het ook geskryf: “Neem asseblief die laaste versoek vir ’n DNS-toets ernstig op. As jy dit nie doen nie, sal ek regsaksie moet neem en jou dagvaar.”
Michael het verlede week die papierwerk by Los Angeles se hoërhof ingedien in ’n poging om gedeelde toesig te kry oor Kourtney se seun, Mason. Die verhoor vind volgende maand plaas.
Die ster van Keeping Up with the Kardashians hou egter vol daar is nie ’n manier dat Michael Mason se biologiese pa is nie omdat hulle nooit seks gehad het nie. ’n Bron na aan Kourtney het gesê: “Sy het nie met daardie model seks gehad nie. Die hele storie is belaglik. Sy dink dis simpel en dis glad nie waar nie. Kourtney weet wie die pa van haar seun is en dit is nie dié ou nie.”
Michael wil hê die regter moet beslis dat Kourtney (34), Mason (3) en Scott (30) DNS-toetse moet ondergaan.