Jennifer Aniston meen die feit dat sy ’n bietjie gewig aangesit het lei tot gerugte dat sy swanger is.
Die 44-jarige aktrise, wat ook bekend is vir haar liefde vir joga en gesonde eetgewoontes, meen haar effens molliger figuur is die rede waarom sy pal gevra word of sy swanger is. Sy is nou bekommerd dat die voortdurende bespiegelinge oor haar persoonlike lewe haar komende troudag of enige toekomstige babanuus sal bederf.
Jen, wat aan die akteur Justin Theroux (42) verloof is, het gesê: “Dit voel ’n bietjie asof hulle die vraag uitgeput het, en ook die bespiegelinge. Dit is so te sê uitgeput. Hoekom nie net wag tot ons werklik die pret het om iets aan te kondig nie? Wie wil nou raai-raai speel, of dit nou ’n gesin of ’n troue of wat ook al is?”
Sy het Maandag op The Kyle and Jackie O Show in Australië gesê die gerugte dat sy swanger is, spruit daaruit dat sy bloot ’n paar kilogram aangesit het.
Jennifer het ook gespot met bewerings dat Justin se 42ste verjaardagpartytjie verlede Saterdag by hul herehuis in Bel Air, Los Angeles, eintlik hul huweliksonthaal was. Sy het gesê: “Daar was blykbaar die afgelope naweek ’n geheime een.”
Die aktrise en haar verloofde het 75 gaste – onder andere Ellen DeGeneres, Ben Stiller, Jimmy Kimmel, Tobey Maguire, Laura Dern, John Krasinski, Don Cheadle en Jason Bateman – by hul onlangs gerestoureerde huis van R210 miljoen onthaal.