Sarah Ferguson het op Balmoral by koningin Elizabeth gekuier, maar kon net bly tot prins Philip opdaag.
Philip (92) weier glo om in sy voormalige skoondogter (53) se geselskap te wees.
Die hertogin van York is die eerste keer sedert haar egskeiding van prins Andrew (53) in 1996 gevra om in die hoofkasteel op die koningin se Skotse landgoed oor te bly. Haar en Andrew se dogters, prinsesse Eugenie (23) en Beatrice (25), was ook by. “Dit was soos die ou dae. Die hertogin word behandel asof sy en die hertog nog getroud is,” het ’n bron aan die koerant The Express gesê.
Senior koninklikes het Fergie jare lank uitgesluit van familiegeleenthede, al is sy en Andrew steeds bevriend. Sarah het in 2005 en weer in 2008 by Balmoral gebly, maar sy is op albei geleenthede nie toegelaat om saam met ander familielede, onder wie Philip en prins Charles (64), in die hoofkasteel te bly nie. Elizabeth (87) het nog altyd met Fergie oor die weg gekom, maar Philip het haar as “vreemd” beskryf.
Volgens The Express kon Andrew Fergie net na Balmoral neem as sy vertrek voor sy pa opdaag. “Die feit dat die hertogin daar was, verduidelik hoekom prins Philip eers Maandag opgedaag het. Hy weier om in dieselfde vertrek as sy te wees en het haar nooit vergewe vir die skandale wat in die 90’s soveel opspraak vir die monargie verwek het nie,” vertel ’n bron.