Linda leef ’n geseënde lewe: Sy is met “die volmaakte man” getroud, het twee oulike kinders, ’n wonderlike werk as joernalis by Genève se topkoerant en ondersteunende vriende.
Maar iets is nie reg nie. Ly sy aan depressie, is sy lewensmoeg of is daar ’n dieper geestelike satheid? Wat dit ook al is, Linda se ontevredenheid met haar lewe veroorsaak dat sy elders gaan troos soek – in die arms van ’n ou liefde wat nou ’n gerespekteerde politikus is.
Maar dis ’n Paulo Coelho-roman, dus gaan dit oor meer as net owerspel. Dis ’n storie oor die menslike toestand en hoe dit eindelik net liefde is wat ons nodig het. Dit word uit Linda se perspektief vertel en is vir almal wat ’n saadjie van rusteloosheid voel en wat voel daar is meer aan die lewe.
In Coelho se hande word Linda se affair ’n metafoor vir verknegting én opheldering en die reis is fisiek sowel as geestelik. Adultery bied ’n betekenisvolle kykie in ’n dilemma van ons tyd en laat jou aan die ander kant los met ’n gevoel van vervulling en hoop.
* Deur Paulo Coelho. Hutchinson. R303*