Ons blogger Christiaan bring hulde aan Huisgenoot se teksredakteurs – en jy kan ’n jaar se toegang tot aanlynwoordeboeke wen!
EK HET onlangs darem lekker gegiggel toe Bobby en Karlien van Jaarsveld se ma, Ronel Brink, dié gesprek met hul suster, Cara, op Twitter gehad het. Loer gou:
Hoewel ek heel simpatiek seker is Cara het net ’n klein glips gemaak, het Ronel soos enige goeie ouer die hef stewig in die hand: Om reg te spel is superbelangrik!
Ek weet baie mense rol hul oë as daar op goeie spelling gehamer word, maar ek dink dit laat soms ’n bitter smaak in die mond as “vanaandˮ sommer “vinaandˮ word, of ’n klomp pelle rondom ’n “vierˮ bymekaarkom vir ’n paar doppe en ’n braai. Jy gaan waarskynlik ook nie die werk van jou drome losslaan as jy in ’n aansoek jou “addresˮ aandui nie.
En ek wil glad nie beterweterig klink nie – ek maak self partykeer lawwe foute – maar ek dink goeie spelling was dalk een van die redes waarom ek verlede jaar Saktyd gewen het.
By Huisgenoot word ons omtrent bederf omdat ons ’n span van vyf teksredakteurs het – van die slimste mense wat ek ken – wat weekliks duisende en duisende woorde fynkam om seker te maak jou Huisgenoot is van hoek tot kant in die mooiste Afrikaans – en natuurlik dat elke woord reg gespel is.
DIE DROOMSPAN

Huisgenoot se teksredakteurs Regsom van bo links: Desiree Hartney, Hugo Loubser (hoof), Morné van Rooyen, Mariana Loots en Wynand Louw. Foto’s: Peet Mocke, Martin de Kock
Moet my nie verkeerd verstaan nie: Hul pligte beteken nie ek en my medejoernaliste kan slaplê en spel soos ons wil met die wete dat hulle alles vir ons sal regmaak nie. Ons word ordentlik oor die vingers getik as te veel slordighede deursluip.
Maar ek moet erken dis ietwat gerusstellend om te weet hulle is ’n vangnet wat seker maak ons artikels is heeltemal spelfoutvry.
Wat my altyd so skuldig laat voel is dat hulle nie skroom om tot ná middernag te werskaf aan artikels waarvoor hulle bitter min erkenning kry nie; dis immers net die joernalis en fotograaf se naam wat julle aan die begin van die artikel lees.
Ek skat ’n GROOT dankie gaan nie heeltemal genoeg wees nie; daarom maak ek seker ek soek elke woord wat ek skryf in ’n woordeboek op om hul werk makliker te maak – en dis ook die oplossing wat ek voorstel as jy weet jy pleeg daagliks spelmoord.
Dit klink seker na die mees vanselfsprekende oplossing ooit, maar as jy net op sosiale media kyk hoe Afrikaans omtrent uitmekaargetrek word, lei ek af woordeboeke is vir baie ’n nuutjie.
Ek het op universiteit ’n wonderlike hulpmiddel ontdek – Pharos se stel aanlynwoordeboeke. Ek is self ’n voorstander van die gedrukte kopie, maar ongelukkig het my arms nie genoeg krag om daai baksteen oral saam te dra nie.
Die aanlynwoordeboeke – wat meer as 25 verskillende Afrikaanse-woordeboeke insluit, onder meer die tweetalige woordeboek en verskeie vakwoordeboeke soos vir ekonomie, sake, musiek, teater, biologie, gesondheidswetenskappe en regs- en handelsterme – is daagliks in die arsenaal wat ek inspan om moontlik eendag ’n spelmeester te word. Ek gebruik dit selfs op my selfoon wanneer ek nie naby ’n rekenaar of ’n gedrukte woordeboek is nie.
Ek is so opgewonde oor dié tegnologie dat ek by Pharos gaan aanklop het in die hoop dat hulle die woordeboeke met van julle sal deel.
Hulle het met ’n groot glimlag ingestem.
SMS EN WEN
Drie lesers kan elk ’n jaarintekening (12 maande vanaf datum van intekening) vir Pharos se volledige stel aanlynwoordeboeke wen. SMS die woord SPEL, die antwoord op die vraag hieronder en jou naam en adres voor 19 Augustus om 17:00 na 34922.
Vraag: Hoeveel teksredakteurs werk by Huisgenoot?
Die borg is verantwoordelik vir die verskaffing van die pryse binne ’n redelike tyd.
- Christiaan Boonzaier
Christiaan Boonzaier het verlede jaar die kykNET-werklikheidsprogram Saktyd gewen en so ’n pos as joernalis by Huisgenoot losgeslaan.
Lees Christiaan se vorige blogs by