Kim Kardashian en Kanye West gaan nie meer foto’s van hul dogter aan ’n tydskrif verkoop en die geld aan liefdadigheid skenk nie.
Die paartjie se eerste kind, North West, is in Junie vyf weke vroeg gebore. ’n Tydskrif het Kimye glo R30 miljoen aangebied vir die eerste foto van hul babadogter, maar die paartjie het die aanbod nou van die hand gewys.
’n Bron het aan die skinderwebtuiste TMZ.com gesê Kim (32) en Kanye (36) het dit aanvanklik oorweeg om ’n lonende kontrak te onderteken om die geld aan liefdadigheid te skenk, maar het die idee onlangs laat vaar.
Die twee wonder nou of hulle vir ’n vooraanstaande tydskrif soos Vanity Fair moet poseer, of net ’n foto van hul baba op ’n sosiale netwerk moet plaas, soos hul vriende Beyoncé en Jay Z gemaak het nadat hul dogter, Blue Ivy, gebore is.
Kim is nog nie sedert North se geboorte in Los Angeles gesien nie, maar is glo steeds besig met die verfilming van Keeping Up with The Kardashians.
’n Bron het onlangs gesê: “Die kameras is gedurig by sedert Kim en Kanye North van die hospitaal af huis toe gebring het. Kanye is vies oor die indringing, maar Kim is kontraktueel verbind om te werk.”
Die paartjie benut glo hul tyd uit die kollig om hul weelderige troue te beplan.