Oscar is in Hermanus gesien. Die Olimpiese atleet Oscar Pistorius (26) het Sondagoggend saam met drie onbekende mansvriende in Hermanus se Ou Hawe kajak geroei.
Oscar, wat binnekort teregstaan vir die dood van die model Reeva Steenkamp, het “ ’n rukkie met die mans gesels voor hulle die kajakke te water gelaat het. Hy het ontspanne gelyk. Hy was in sy swembroek en het vleeskleurige prostetiese bene pleks van sy kenmerkende koolstofvesellemme en ’n reddingsbaadjie aangehad,” het die Daily Voice berig.
Sedert Reeva se skietdood op 14 Februarie vanjaar is Oscar al ’n hele paar keer in die openbaar opgemerk. Sy familie het vroeër ’n verklaring uitgereik waarin hulle sê hy bid en treur elke oomblik van die dag oor Reeva.
In April is hy twee keer gesien – eers by ’n privaat partytjie by die restaurant Kitchen Bar in Fourways en daarna aan’t oefen by die Universiteit van Pretoria. In Junie is hy glo twee keer saam met ’n onbekende vrou na ’n Audi-motorhandelaar in Rivonia om ’n Audi R8 te koop.
Oscar is op borgtog van R1 miljoen vrygelaat en is verhoorafwagtend op ’n klag van moord met voorbedagte rade. Hy moet weer op 19 Augustus in die hof wees. Reeva sou op dié dag 30 word.
Bron: Daily Voice
- KOKETSO MASHIKA