Nicole Scherzinger en Lewis Hamilton se liefde blom glo weer nadat hulle onlangs uitgemaak het.
Die X Factor-beoordelaar (35) en Formule 1-renjaer (28) was gebroke nadat hulle verlede maand weens hul warrelwindleefstyl hul langafstandverhouding van vyf jaar beëindig het. Nadat hulle onlangs op emosionele wyse in Los Angeles herenig is, blom hul liefde glo weer.
’n Goeie vriend van Lewis het aan die koerant Sunday People gesê: “Nicole en Lewis het albei ’n blaaskans van hul werke gehad en dit was die ideale tyd om te ontmoet.
“Hy was verslae nadat hulle opgebreek het, en toe Nicole inwillig dat hy na haar vlieg, was hy in die wolke. Hy is na haar huis in Los Angeles om sake te bespreek en albei het gedink dit het goed afgeloop. Dit was hul laaste kans om mekaar te sien en hul toekoms te bespreek. Hulle wil baie graag bymekaar wees, maar weet dit sal moeilik wees van nou af tot Kersfees. Albei is egter gewillig om hul bes te doen om die verhouding te laat slaag.
“Hulle is baie lief vir mekaar en het mekaar vreeslik gemis nadat hulle uitgemaak het.”
Iemand in die binnekring het onlangs verklap die twee het kontak behou nadat hulle die laaste keer uitgemaak het en gesukkel het om sonder mekaar oor die weg kon kom.
Lewis het sy onlangse sege by die Hongaarse Grand Prix aan Nicole opgedra, maar hy kon homself nie sover kry om haar naam te noem nie.
Hy het gesê: “Dit voel effens vreemd sonder daardie iemand hier, maar ek moet sê, dis een van daardie wedrenne wat jy aan daardie persoon wil opdra.”