Brittanje se prins Harry is na bewering verlig dat daar nou “minder van hom verwag word”.
Die aantreklike koninklike, wat Maandag sy 30ste verjaardag gevier het, het gesê hoe bly hy is dat sy broer, prins William, ’n tweede keer pa gaan word wanneer dié se vrou, hertogin Catherine, volgende jaar die lewe skenk. Maar blykbaar is hy om meer as een rede bly.
“Dat die wêreld se oë op Catherine en haar swangerskap gerig gaan wees, is wonderlik, volgens Harry,” het Katie Nicholl, ’n koninklike medewerker van die Mail on Sunday en Vanity Fair, aan die Britse tydskrif Heat gesê. “Harry haat dit wanneer die kollig op hom is. Nie net is hy bly prins George kry ’n boetie of sussie nie; hy is ook bly hy word nou die vyfde troonopvolger. Terwyl hy nie sy verantwoordelikhede wil versaak nie, is hy verlig dat daar nou minder verwagtinge van hom is.”
Die grootste druk wat die prins nou moet hanteer, handel oor sy liefdeslewe. Hy het in April ná ’n verhouding van twee jaar met Cressida Bonas uitgemaak omdat sy glo nie al die mediabelangstelling in hul verhouding kon hanteer nie.
Hy gaan nou glo uit met Camilla Thurlow, nadat die twee luidens berigte in die nagklub Tonteria gesoen het. Maar hy is vroeër vandeesweek saam met Cressida gesien.
Terwyl sy persoonlike lewe onseker lyk, maak Harry seker hy geniet gesinstyd saam met William en Catherine en hul seun, prins George (13 maande).
“Harry is ’n wonderlike oom – hy pas George op en speel gereeld met hom,” het Katie bygevoeg.
© Cover Media