’n Nuwe geslag kinders word nou bederf met Storieman. Verlede jaar se Storieman Omnibus 1 en Omnibus 2 was ’n dawerende sukses en Omnibus 3 is pas uitgegee. Saam met die boek kom twee CD’s met die oorspronklike voorlesings van geliefde verhale soos Die Gelukkige Prins, Die Groot Pasteiwedstryd, Soetlief en die Ondier en vele meer.
Anneke Streicher, ’n Huisgenoot-uitleg-kunstenaar, vertel van die bekendstelling.
“Ek is kinderlik opgewonde toe ek opstap met die plaveiselpaadjie van die huis wat alte baie na Fritz Deelman s’n lyk. Vandag gaan ek vir Leon Rousseau ontmoet! Die man wat ons al die wonderlike stories gebring het: ure se lê op die mat, ver ry in die motor, as ek nie kon slaap nie en ma-hulle lankal balke saag. Dis die oom wat siekwees lekker gemaak het, want dan kon jy Storieman luister! Dis soos om vir Kersvader te ontmoet . . .
“Die bekendstelling is in dieselfde huis as waar die oorspronklike reeks byna 30 jaar gelede bekendgestel is.
“Hier het Leon destyds gewoon toe Storieman ons die eerste keer lekker bang gemaak het met Gobbolino die Heksekat, laat kraai het van die lag oor Die Tamaai Groot Harige Bogman en in ma se klere prinses-prinses laat speel het oor Aspoestertjie. Al dié stories en nog is terug om ’n nuwe geslag lief te maak vir lees.
“En ek is saam met my generasie bly dis nou ons tyd vir kinders kry, want dis die beste verskoning om weer te kuier by die kabouter met die rooi broek, groen baadjie en wit pluim in sy hoed.”
Op die foto teken Leon Rousseau ‘n boek vir Linden Murray.