Prins George se ouers, Catherine en prins William, sal hom na verwagting in September of Oktober laat doop.
Hulle sal seker eers wag dat William se grootouers koningin Elizabeth en prins Philip terugkeer na Buckingham-paleis ná hul jaarlikse somervakansie by hul Balmoral-landgoed in Skotland.
Die amptelike plegtigheid sal na verwagting soortgelyk wees aan William s’n in 1982. Dis in die musiekkamer van die paleis gehou en net ’n paar familielede was teenwoordig.
Vir die tradisionele doopplegtigheid sal George ’n replika dra van die Honiton-kant-en-satyn dooprok wat koningin Victoria se seun Edward in 1841 gedra het. Dié seun was later koning Edward VII. Die oorspronklike dooprok is in 30 koninklike doopplegtighede, wat William s’n insluit, gedra voor die koningin se amptelike kleedster in 2008 gesê het dit kan nie meer gebruik word nie omdat dit te broos is.
Die jong troonopvolger, wat op Maandag 22 Julie gebore is, geniet tans gehaltetyd saam met sy ouers en grootouers aan moederskant, Carole en Michael Middleton, by dié se huis in Bucklebury, Berkshire, nadat hulle ’n kort rukkie by Kensington-paleis was. Catherine en die baba sal na verwagting ’n paar weke by die Middletons bly terwyl sy gewoond raak aan moederskap. William het twee weke se vaderskapverlof geneem. Hy is lid van die koninklike lugmag.