Ons onderwyser van die week, Carlyn Oppelt, is vir Huisgenoot, YOU en Drum se gr. 11-lewenswetenskappebladsye verantwoordelik en ook betrokke by die Universiteit Stellenbosch se telematiese projek.
Naam en ouderdom:
Carlyn Oppelt, 49 (amper die groot 50!).
Wat en waar onderrig jy?
Ek is die afgelope 28 jaar al ’n lewenswetenskappe-onderwyseres by New Orleans Sekondêr in die Paarl.
Hoekom het jy onderwys as ’n loopbaan gekies?
Toe universiteite destyds nie vir alle rasse toeganklik was nie, was vroue basies tot drie keuses beperk: onderwyseres, verpleegster of sekretaresse. Onderwys was vir my ’n voor die hand liggende keuse omdat ek van kleins af “skool-skool” met my twee ouer sussies gespeel het en nogal streng was as hulle nie hul “werk” geken het nie. Ek het grootgeword in ’n onderwysomgewing: My pa was ’n skoolhoof en my ouma was ook ’n onderwyseres.
Gee drie wenke aan ander onderwysers wat jou vak onderrig:
- Wees altyd op hoogte van die nuutste verwikkelinge in jou vakgebied deur gereeld opskerpingskursusse by te woon. Jou leerders kry respek vir jou as hulle kan sien jy is in beheer van jou vakkennis. Gee jou leerders dieselfde geleenthede en stel hulle bloot aan wetenskapsuitstallings (ekspo’s) as jy kan.
- Wees ’n onderwyser wie se passie aansteeklik is vir jou kollegas en wees ’n rolmodel vir jou leerders.
- Doen soveel moontlik praktiese aktiwiteite om die vak lewendig te hou en hou op om verskonings te maak waarom lewenswetenskappe nie prakties aangebied kan word nie. Ons almal het oorvol klasse en te min apparate; dis geen verskoning nie. Daar is so baie alternatiewe en plaasvervangende materiaal wat jy as apparate kan gebruik. Onthou: Jy is ’n onderwyser en jou kreatiwiteit gaan meer as ooit beproef word. Span tegnologie in tot jou en jou leerders se voordeel en wys leerders dat ’n selfoon wel in die klas gebruik kan word. Selskopie is een voorbeeld! As jy nie genoeg mikroskope in die klas het nie, neem met jou selfoon ’n foto by die mikroskoop (ja, dis moontlik) en stuur dit na die leerders se selfone. Skep ’n eksklusiewe groep op Facebook of WhatsApp waar jy jou leerders kan help met huiswerk wanneer hulle vashaak. Daar is ontelbare moontlikhede. As jy bloot aanhou om jaar ná jaar dieselfde te doen, sal jy vashaak.
Gee drie wenke aan nuweling-onderwysers in enige vak/graad:
- Bemagtig jouself met die leerinhoud. Niks maak jou meer onseker en senuagtig as jy iets nie weet nie. Leerders sien daardie swakheid raak en begin jou manipuleer. Vir die nuwe en jong onderwysers: Sê aan leerders jy is ’n onderwyser, maar dat jy ook menslik is en nie alles weet nie, maar dat jy bereid is om saam met hulle uit te vind wat die antwoorde kan wees.
- ’n Onderwyser se werk is nooit gedaan nie. Maak dit vir jou makliker deur tegnologie in te span en maak jou les so visueel en interessant moontlik vir die leerders. ’n Gedissiplineerde, voorbereide onderwyser sal selde indien ooit dissiplinêre probleme hê.
- Raak betrokke by vakverenigings. Ken die mense binne jou vakgebied wat in jou streek/area werk en vra as jy hulp nodig het. Vra ervare onderwysers om jou leiding te gee, maar waak teen negatiewe mense. Omring jouself met positiewe mense, want onthou: Either you are born NOT to be a teacher, or you are CURSED to be one!
Wat is jou gunsteling-tegnologie of -boek om in die klas te gebruik?
As ’n onderwyser wil ek nie ’n spesifieke boek bevorder nie; gebruik verskillende boeke as bronne. As ’n hulpaanbieder van die telematiese uitsendings by die Universiteit Stellenbosch (’n projek wat lesse na skole in drie provinsies uitsaai) is ek ook verantwoordelik vir die samestelling van materiaal vir leerders. Tegnologie is dus belangrik en ek glo skole wat nie in dataprojektors in hul laboratoriums belê of in toegang tot die internet nie, raak agter en ontneem hul leerders van gehalte-onderrig.
Wat spoor jou aan?
Die feit dat ek ’n verskil maak en kan maak! Daar is geen groter beloning as dankbaarheid van leerders en ouers wat dankie sê dat jy hulle en hul kinders gehelp het nie. As ek weer ’n beroep moet kies, sal dit niks anders as die onderwysberoep wees nie. Mag daar van elke hartsonderwyser eendag gesê word: “Die kunstenaar het verdwyn, maar sy/haar werk bly voortbestaan.”