NOUDAT Huisgenoot se kosspan in my vorige blog deeglik voorgestel is (Ontmoet Huisgenoot se kosspan), is dit tyd om lig te werp op die ander helfte van die dolle kombinasie. Ons deel ook dikwels die kombuis met ons sustertydskrif DRUM se kosspan.
Hope Malau is die enigste man in die kombuis (hy kla nie!) Hy is ons webmeester en bekend vir sy frase: “Yo, dit is Hope!” – natuurlik gevolg deur ’n flits van daardie skitterwit tande. Met dié dat hy altyd in die minderheid tussen vroue is, ly Hope soms aan estrogeen-versmoring. En sy kuur is dan om te “dans asof niemand kyk nie”. Ek belowe jou, hy dans letterlik asof niemand kyk nie.
Dan is daar natuurlik Drum se jeugdige kosredakteur, Lungile Nhlanhla, of Lungi vir ons almal. Party van julle onthou haar dalk uit die eerste seisoen van Masterchef SA waar sy vyfde gekom het, maar vir ons is Lungi die sexy bewaker van die chaos in die kombuis. Gee vir daardie meisie ’n mes en ’n oop spens, en sy kan die raaisel uit enige boks haal. Ongelukkig verlang sy te veel na haar tuisstad Durban en verlaat sy ons eersdaags. Ons gaan haar vreeslik mis.
Met dié dat ons so ’n multikulturele spulletjie met “spesiale” persoonlikhede is, is daar wel ’n paar goed waaroor ons koppe stamp. Die kriptoniet vir ons superspan kan in twee lettergrepe omskryf word: mu-siek. Ja, mense, MUSIEK. Die een ding wat ons magteloos laat en waarsonder ons nie in die kombuis kan klaarkom nie.
Ons kombuisbestuurder, Carmen Hendricks, hou die sleutel tot ons kriptoniet, want sy wen altyd, met Lungi en Hope kort op haar hakke. Ek verloor gewoonlik die stryd, want ek is die enigste een wat van “harde” en “neerdrukkende” musiek hou, soos my kombuismaats dit beskryf. As ek enigsins voorstel dat van my musiek gespeel word, is ’n gesamentlike sug gewoonlik my antwoord. Arme ek moet maar stilbly en aanhou kap.
Reggae teenoor ’n popnommer het ’n groter uitwerking op uie kap as wat jy dalk dink. Wanneer Hope se UB40 uit die luidsprekers vloei, voel dit of ék die ui is. My oë raak selfs soms glasig. Maar wanneer T.I. se nuutste rapliedjie speel, kap ek soos ’n masjien. Ek sal selfs vir Edward Scissorhands ore aansit!
Ons musiek raak redakteur Carmen Niehaus glad nie. Sy tik kalm voort aan haar volgende 100 beste-handelsmerkuitbreiding. Terwyl sy die “kinders” vrye teuels in die kombuis gee, fokus sy eerder daarop om almal van die huisvrou tot die werkslaaf tevrede te stel met nuwe idees vir die immer uitdagende vraag: “Wat eet ons vanaand?”
Al is Carmen N gewoonlik verdiep in haar resepte, is sy altyd die eerste een wat haar kop by die kombuisdeur insteek wanneer ’n histeriese gelag uit die kombuis deur die gange weerklink. En dan volg haar bekende frase: “Vertel, vertel!” Een of twee keer sal ’n wenkbrou gelig word en dan sal daar weer skielik uitgebars word van die lag.
Ons musieksmaak verskil dalk, maar nadat ons ’n jaar lank die kombuis gedeel het, het Huisgenoot en DRUM eindelik geleer om oor die weg te kom. Afsonderlik sing ons dalk elkeen ons eie deuntjie – of dit nou Hope se kwaito, Lungi se house-musiek, Carmen Hendricks se R&B of my alternatiewe rock is. Maar saam is ons net ’n spul malletjies wat tot dieselfde deuntjie bydra.
- Esther Malan
Lees Esther se vorige blog: