Terrance, die woestynleeu wat in Augustus 2013 van Namibië na Angola geloop en deur die Kunene vol krokodille geswem het, is doodgeskiet.
Die leeunavorser dr. Flip Stander het Donderdag 28 Augustus foto’s gedeel van Terrace se karkas wat noordwes van Sesfontein in Namibië gevind is naby die nedersetting Tomakas.
Inwoners van die omgewing het die enorme maanhaarleeu vermoedelik reeds Sondagmiddag 24 Augustus geskiet.
Die leeu se dood wek opnuut kommer oor die slagting onder Namibië se leeus en renosters. Boonop versteur dié leeu se dood die geslagsverhouding van woestynleeus selfs meer, volgens Stander.
Op 1 Julie is nog ’n maanhaar, Rosh, in dieselfde omgewing van kant gemaak.
In die voorafgaande 10 jaar was die probleem dat trofeejagters juis mannetjies wou skiet. Nou lyk dit asof daar in die omgewing van Tomakos ’n onverdraagsaamheid ontstaan het by die plaaslike mense, meen Stander.
Terrace is in November 2007 in die Agiabrivier gebore en was ’n merkwaardige leeu. Hy het eers na die Huabrivier getrek voor hy op 7 Augustus 2012 op sy bekende staptog vetrek het.
Danksy die satellietsender in Terrace se nekband kon Stander bruikbare inligting inwin.
Dié woestynleeu het van 7 Augustus 2012 tot 5 Februarie 2013 binne 182 dae 3 497 km in die Skedelkuspark gestap, wat ’n gemiddelde van 18,9 km per dag is.
In die nag van 18 op 19 Januarie 2013 het hy altesaam 69,8 km gestap, die verste bekende aangetekende afstand wat ’n leeu al in 24 uur afgelê het.
Terrace het 22 diere, hoofsaaklik gemsbokke, in die 182 dae gevang.
In Augustus 2013 was daar weer ’n lang staptog noordwaarts, voor Terrace deur die Kunenerivier met al sy krokodille na Angola geswem het.
Hy het die buurland 15 dae lank besoek, voor hy teruggeswem en na die ander woestynleeus teruggekeer het.
Al goeie nuus is dat Terrace vir ’n nageslag van agt leeuwelpies gesorg het terwyl hy deel van die Huabtrop was.
Stander het Terrace se nekband gekry wat die jagters verbrand het.
Dit kan as bewysstuk in ’n moontlike polisieondersoek dien.
- Joanie Bergh
Bron: Eben Human, Die Burger.