Die Raad vir Geowetenskap identifiseer moontlike aardbewing-fokuspunte in Suid-Afrika se stedelike gebiede, het hulle Maandag gesê.
“Ons het reeds Suid-Afrika se fokuspunte geïdentifiseer, maar ons beplan om op ’n kleiner skaal te werk, spesifiek in die stedelike gebiede,” het die bestuurder van die seismologie-eenheid, Michelle Grobbelaar, gesê.
“Ons beplan om dié punte in die stedelike gebiede te identifiseer om toekomstige rampe weens gebouskade tydens ’n aardbewing te help verklein.”
Volgens die raad se kaart word die gebiede rondom Johannesburg, Kaapstad en Bloemfontein as fokuspunte beskou.
“Hierdie punte dui aan waar hoër seismisiteitsvlakke verwag kan word,” het Michelle gesê.
“Dus is daar ’n hoër kans dat ons in daardie gebiede aardbewings kan verwag, teenoor die gebiede wat nie (op die kaart) uitgelig is nie.”
’n Aardbewing van 3,8 op die Richter-skaal het Suid-Afrika Vrydag getref.
Die Amerikaanse Geologiese Opname het gesê die bewing het 12 km wes van Orange Farm, ’n township suid van Johannesburg, gebeur.
Maar volgens Michelle het die aardbewing Carletonville, sowat 70 km, die oggend 1:14 getref.
Daar was twee groot naskokke: ’n bewing van 3,2 om 1:15 en ’n bewing van 2 om 1:16.
Vroeër vandeesmaand is ’n 31-jarige man in ’n myndorp in Orkney, Noordwes, dood toe ’n aardbewing van 5,5 die gebied tref.
Minstens 34 mynwerkers is beseer en meer as 600 huise is beskadig.
Die raad het toe gesê meer bewings gaan in die komende weke en maande oor die hele land heen gevoel word.