Volgens ’n vriend is Robin Williams se weduwee “sterk”.
Die geliefde komediant is op 11 Augustus in sy huis in Kalifornië dood aangetref nadat hy sy lewe geneem het. Maxwell Drever onthou hom as ’n aangename, bedagsame man.
Die filantroop was Saterdagaand saam met Robin se vrou, Susan Schneider, by die Hotbed-fondsinsamelingsgeleentheid vir die beursprogram 10 000 Degrees en het net mooi woorde vir die treurende weduwee gehad.
“Sy is verbasend sterk sy kyk vorentoe en probeer iets goeds hieruit kry sodat ander nie dieselfde stryd as sy en Robin moet deurmaak nie,” het Maxwell aan die tydskrif People gesê. Sy Drever-familiestigting help 10 000 Degrees befonds.
Robin het ’n doelgemaakte Pegoretti-fiets aan die stigting geskenk om geld in te samel.
En Maxwell het onwillekeurig gedink aan hoe vol vreugde die aand sou wees as sy oorlede vriend daar kon wees.
“Ek kan sien hoe hy spog met die fiets wat hy aan die veiling geskenk het; hoe hy almal laat lag en baie geld insamel vir ’n saak waaroor hy baie omgegee het,” het hy bygevoeg.
Maxwell het ook teruggedink aan hoe hy verlede maand Robin se 63ste verjaardag saam met hom en Susan gevier het. Hy noem hoe die ster hom en sy vriende vermaak het met sy vreugde oor die kostuums met ’n Marokkaanse tema wat vir die Hotbed-geleentheid voorberei is.
“Die garage-deel was gevul met die kostuums. Robin was daar en het al die lawwe uitrustings aangehad; hy het heeltyd gegrap,” sê Maxwell. Hy het ook genoem Robin se gesondheidsprobleme ten spyt, het die ster altyd positief probeer bly.
“En ons het almal geweet waarmee hy sukkel. Die Parkinson-siekte was net een van die probleme waarmee hy gesukkel het,” het hy verduidelik. “Hy het aan depressie gely. Ek het familielede met depressie; ek het dus ’n idee gehad van wat aangaan. Toe kom die Parkinson-diagnose; al die dinge wat jy nie meer sal kan doen nie. Dit is onregverdig dat dit alles oor sy pad moes kom, want hy het geluk en vreugde aan so baie mense verskaf.”
People berig dat Robin se fiets vir sowat R214 000 opgeveil is. Dit is genoeg om twee studente ’n jaar lank te laat studeer.
© Cover Media