’n Onlangse voorval in Mexiko is so afgryslik en onmenslik, dit klink soos ’n toneel uit ’n gruwelprent.
“Dr. M” (30), ’n Mexikaanse dokter wat by die Instituut vir Maatskaplike Sekerheid in Zamora, Michoacán, werk, is op Donderdag 31 Julie ontvoer toe sy haar werk verlaat. Sy is ses dae lank aangehou, waartydens haar gevangenemers haar gemartel, bedwelm, vermink en aangerand het.
Haar gevangenemers is glo familie en vriende van ’n swanger vrou wat deur dr. M behandel is. Volgens hospitaalpersoneel het “die vrou in ’n gevorderde stadium van haar swangerskap daar opgedaag. Die baba was reeds dood in haar baarmoeder omdat die ma te lank gewag het om mediese hulp te kry.”
Dr. M se rol in die saak is onduidelik, maar die familie het die hospitaal gedreig en gesweer hulle sou wraak neem oor die baba se dood. Die gevangenemers het twee van dr. M se vingers afgesny, haar ernstige wonde aan haar maag toegedien en haar gedwing om dié waarskuwing op die muur te skryf: “Die ander ginekoloë wat my seun doodgemaak het, gaan ook boet.”
Paramedici van die Rooikruis het op 6 Augustus op haar afgekom nadat die bure haar gille gehoor het. Dr. M word tans in ’n privaat hospitaal behandel.
Saamgestel deur Megan Bursey
BRONNE: JUSTICEINMEXICO.ORG, DAILYMAIL.CO.UK