’n Ongeluk wat Carl Pistorius, die moordbeskuldigde Paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, se broer, ernstig beseer gelaat het, is die onderwerp van ’n deurlopende polisie-ondersoek, het die Limpopo-polisie Sondag gesê.
“Ons is steeds besig met ’n ondersoek na na nalatige en roekelose bestuur,” het brig. Hangwani Mulaudzi gesê.
Die ongeluk het Vrydagaand buite Modimolle gebeur toe ander motor van voor in Carl se motor bots.
Hy moes uit die wrak gesny word voor hy en die ander bestuurder na die hospitaal geneem is. Albei is ernstig beseer.
Twee passasiers in sy motor is ongedeerd.
Saterdag het die Pistorius-familie ’n verklaring uitgereik wat sê Carl is medies “buite gevaar”.
Sondag het Hangwani gesê dit kan nog ’n “ruk wees” voor die ondersoek voltooi is; alle relevante inligting word in ’n dossier versamel. Maar hy het bygevoeg: “Ons gaan seker maak dit word so gou moontlik afgehandel.”
Hangwani het ook mediaberigte ontken dat dronkbestuur ook deel van die ondersoek is.
“Ons wil hierdie bewerings absoluut ontken.”
In Mei verlede jaar is Carl vrygespreek op ’n aanklag van strafbare manslag in verband met ’n ongeluk wat in 2008 plaasgevind het waar ’n motorfietsbestuurder oorlede is.
Intussen gaan slotbetoë in Oscar Pistorius se moordverhoor – in verband met die skietdood van sy meisie, Reeva Steenkamp – na verwagting Donderdag begin.