Oorkruisvoertuie is ’n gewilde nismark onder Suid-Afrikaanse motorkopers; daarom poog die meeste vervaardigers om ’n teenwoordigheid in hierdie belangrike segment te hê.
Peugeot se mededinger hiervoor is die pragtige 2008, wat op die 208 gebaseer is. Dit ding mee met modelle soos die Ford EcoSport en Suzuki SX-4. Maar mense oordeel gou dat iets soos die 2008 eintlik maar net ’n 208 op steroïede is, maar dis ’n wanpersepsie, aangesien die 2008 meer as genoeg unieke eienskappe het.
Ontwerpsgewys lyk dit meer volwasse, terwyl daar ’n groter bagasieruim van 410 L en meer grondvryhoogte is.
Die binne-afwerking is regtig goed en daar is ’n tabletagtige raakskerm waarmee jy onder meer die klankstelsel beheer. Onder die enjinkap is daar ’n 1,6 L-petrolenjin wat krag na die voorwiele stuur en aan ’n vyfspoedhandratkas gekoppel is. Die enjin kwyt hom redelik goed van sy taak, maar ’n sesspoedratkas sou dalk beter gewees het.
In die geheel sal die meeste bestuurders gelukkig wees met die 2008 se soepel en gemaklike rit. Die enigste kritiek is dat daar tans net een model in die plaaslike reeks is. Boonop is sy prys nie so mededingend nie, maar andersins is dit nogal maklik om van die 2008 te hou.
- Model: Peugeot 2008 Allure
- Prys: R269 900
- Enjin: 1,6 L-petrol
- Krag: 88 kW teen 6 000 r.p.m.; 160 Nm teen 4 250 r.p.m.
- Gemiddelde brandstofverbruik: 5,9 L/100 km
- Onderhoudsplan: vyf jaar of 60 000 km
- Wilmer Muller