’n Hond het blykbaar flou geword van “groot vreugde” nadat sy ná twee jaar met ’n familielid herenig is.
Rebecca Ehalt woon en werk in Slowenië. Nadat sy die eerste keer in twee jaar na haar tuisdorp, Murrysville, Pennsilvanië, teruggekeer het, het ’n baie opgewonde schnauzer haar kom groet.
Die video op YouTube wat die oomblik vasvang, is al 1,5 miljoen keer gekyk.
Die schnauzer, Casey, hardloop na Rebecca terwyl sy ’n baie skril geluid maak.
Ná ’n paar sekondes raak alles vir die hondjie te veel en sak sy inmekaar. Nadat haar maag lekker gevryf word, kom sy versigtig weer regop.
Sy het later kalmeer en lyk gelukkig in Rebecca se arms. Dié het genoem die twee jaar skeidingstyd was gelykstaande aan 14 jaar vir Casey.
Bronne: Buzzfeed, news.com.au