Buiten ongelooflike veelsydigheid in die kombuis, is aartappels ook ’n belangrike deel van ’n gebalanseerde dieet wat al die bekende kosgroepe bevat. Aartappels is van nature vetvry, bevat baie min natrium en volop chroom, en die meeste kalium per 100 g van enige groentes en styselagtige kosse.
Gebak
Vryf groot wit melerige aartappels (wees op die uitkyk vir die blou ASA-klassifikasiekode op die sak) met olyfolie en seesout. Voorverhit ’n oond tot 200 °C en bak 10-50 minute. Haal die aartappels uit die oond en sny oor die middel. Vul met ’n skep vetvrye maaskaas en bedek met krakerige saad en neute.
Fyngemaak
Skil en kook groot, wit melerige aartappels in soutwater tot sag. Dreineer en maak fyn met ’n halwe koppie warm laevetmelk; diegene wat nie hul gewig dophou nie, kan ’n blerts botter byvoeg. Geur met sout en peper en sit voor met geknipte grasuie.
Platgedruk
Bak baba-aartappels of ’n middelslag variëteit (wasagtig/melerig) sowat 40 minute teen 180 °C. Wanneer sag, druk die aartappels met die agterkant van ’n metaal- of houtlepel plat. Bedruip met olyfolie, geur met seesout en bak nog 10-15 minute.
Bron: Aartappels Suid-Afrika potatoes.co.za