Die Australiese nuusprogram Sunday Night gaan vandag ‘n insetsel uitsaai, waar Oscar Pistorius op sy stompies loop en maak of hy ‘n geweer in sy hand het. In ‘n ander toneel dra hy ‘n vrou uit sy badkamer.
Oscar se regspan gaan hof toe oor dié video van hom wat die nag toe hy Reeva Steenkamp geskiet het, uitbeeld.
“Ons neem stappe teen die Australiese mediahuis (wat die video het),” het sy prokureur Brian Webber gesê.
“Hulle het nie die reg om die video uit te saai nie.”
Sunday Night se webtuiste beskryf die video as “beeldmateriaal wat nog nooit gesien is nie van Oscar wat die gebeure uitbeeld om ‘n forensiese kenner te probeer oortuig van sy onskuld”.
Die video word na verwagting vandag uitgesaai.
- Sapa