‘n Flink stappie hou moontlik ewe veel voordele vir jou hart in as ’n drafsessie.
In ’n onlangse Amerikaanse studie is bevind vinnig loop vir oefening is net so doeltreffend om jou bloeddruk, cholesterol en risiko vir diabetes te verlaag. Dit is drie van die deurslaggewende faktore by die ontwikkeling van hartsiektes.
Vir die studie het die navorsers meer as 33 000 drawwers en byna 16 000 stappers tussen 18 en 80 ses jaar lank ondersoek.
Albei aktiwiteite verminder die risikofaktore, en as jy ewe veel energie verbrand, is die voordele dieselfde, ongeag of jy hardloop of draf, sê die navorsers. Maar dan moet jy met mening stap en nie rustig drentel nie.
Die voordele neem ook toe met elke oefensessie: Hoe meer die deelnemers per week geoefen het (stap of draf), hoe meer het hul gesondheid verbeter. Die een voordeel van draf bo stap is dat jy binne ’n korter tyd net soveel energie verbrand, wat beteken jy benut jou tyd doeltreffender.