Die Steenkamps is in 2012 dood op hul plaas aangetref. Hulle is geskiet. Die saak het veral groot opspraak gewek toe dit in November uitgestel is nadat die beskuldigde (nou 17) sy regspan afgedank het. Hy het beweer dit was as gevolg van “onoorkombare verskille”. Die beskuldigde hou steeds vol hy is onskuldig, ten spyte daarvan dat die staatsaanklaer, Hannes Cloete, verskeie teenstrydighede uitgewys het tussen sy weergawe van die gebeure en bewyse wat op die toneel verkry is.
Hier is alles wat jy moet weet as jy volgende week die hofsaak wil volg.
Die beskuldigde beweer:
- Hy was in die skuur toe hy skote hoor.
- Hy het in die skuur gebly tot hy nie meer skote gehoor het nie. Hy het toe die huis binnegegaan en Deon en Christelle dood aangetref.
- Hy het Marthella ook gesien; sy het nog gelewe. Hy het haar probeer optel, maar sy het in sy arms gesterf.
- Sy het “sy hemp gegryp” toe sy val en dit het geskeur.
- Hy het gery om die plaaswerkers te gaan waarsku en het toe nog skote gehoor.
- Hy het vuurwapens by die plaashek gevind toe hy op pad was om die plaas te verlaat. Hy het die wapens opgetel en dit saamgevat na die polisiekantoor, waar hy die wapens oorhandig en die aanval aangemeld het.
Die staat beweer:
- Ballistiese bewyse toon albei vuurwapens is in die moorde gebruik; dit is dus onmoontlik dat die seun nog skote kon hoor nadat hy van die huis weggery het.
- Marthella is in die 24 uur voor haar dood vermoedelik verkrag.
- Die beskuldigde het erken dat hy en Marthella kort voor die moorde stry gekry het, maar het nog nie ’n verduideliking daaroor gegee nie.
- Ontleding van die bloedspatsels strook nie met die seun se bewering dat Marthella sy hemp gegryp het nie. Deskundiges het ook getuig dat sy in alle waarskynlikheid te swak sou wees om net voor haar dood sy hemp te kon skeur. Daar is ook bloedspatsels buite die huis en voor die skuur gevind. Dit kan wees dat Marthella buite die huis al noodlottig gewond was. Dit is dus onmoontlik dat die seun nie van binne die skuur, waar hy beweer hy weggekruip het, kon hoor Marthella word aangeval nie.
- Nog ’n bloedbesmeerde hemp is in een van die kamers gevind. Die beskuldigde het erken dat dit syne is; hy het die hemp uitgetrek voor hy polisiestasie toe is “omdat dit vol bloed was”. Die staat beweer dit was ’n poging om sy skuld te verbloem.
- Volgens die staat is die dryfveer vir die moord dat die beskuldigde Marthella verkrag het, dat sy gedreig het om haar ouers te vertel en dat die seun hulle vermoor het om dit stil te hou.
- Die feit dat Marthella (anders as haar ouers) voor haar dood in ’n worsteling gewikkel was, is ’n raaisel en versterk die teorie dat die moorde iets met haar verkragting te doen het.
- Die beskuldigde se storie het verskeie kere verander sedert sy aanvanklike verklaring, en daar word beweer dat hy iemand twee dae ná die moorde gevra het hoeveel geld hy gaan erf. Dit skep die indruk dat hy die moorde met voorbedagte rade gepleeg het.
Die seun se nuwe prokureur is Riaan Bode en is deur sy voog aangestel. Regter-president Frans Kgomo hoor die saak aan, wat op Dinsdag 18 Maart in die hooggeregshof in Kimberley hervat.