Daar is ’n mengelmoes van vermaak op die kassie hierdie naweek – van die fliekweergawe van Sarafina en ’n fantastiese animasiefliek wat in 1977 gemaak is, tot ’n onwaarskynlike liefdesverhaal deur Sofia Coppola en Johnny Depp as die Lone Ranger se handlanger. Daar is beslis iets vir almal.
Vrydag 14 Maart
Sarafina!
SABC3 21:30
Die fliek, wat in 1992 uitgereik is, is gegrond op Mbongeni Ngema se treffer-toneelstuk en spog met ’n paar uiters talentvolle aktrises – Leleti Khumalo, Miriam Makeba en Whoopi Goldberg. Die Hollywood-aktrise speel ’n onderwyseres in die apartheidsera in Suid-Afrika wat haar studente inspireer om op te staan vir hul regte. Beslis die kyk werd.
Saterdag 15 Maart
The Rescuers
SABC3 13.24
Hulle maak nie meer animasieflieks soos dié nie. Glo jy ons nie? Kyk dan hierdie treffer uit 1977 oor twee muise van die Rescue Aid Society wat ’n meisietjie red wat deur ’n bende skattejagters ontvoer is. Dis ’n fees en kinders onder 10 sal mal wees daaroor.
Austin Powers: The Spy Who Shagged Me
DStv Sony (kanaal 127) 20:00
Ons kan almal af en toe doen met ’n bietjie lawwigheid en jy kry nie lawwer as Austin Powers nie. Dié selfverklaarde meesterspioen keer terug na die 60’s om sy gesteelde mojo terug te kry en te verhoed dat Dr. Evil die wêreld oorneem. Groot pret.
Sondag 16 Maart
Lost In Translation
SABC1 20:00
Bill Murray is briljant in komedies, maar hy is nog beter in dramas. In dié fliek deur die regisseur Sofia Coppola, speel hy ’n depressiewe Amerikaanse akteur wat in Tokio is om in ’n advertensie te verskyn. Hy ontmoet ’n pragtige jong vrou, vertolk deur Scarlett Johansson, en hulle vorm ’n onwaarskynlike band.
The Lone Ranger
M-Net 20:05
Ons het al almal van hom gehoor, maar hoe het die Lone Ranger ontstaan? As jy hierdie weergawe van sy handlanger Tonto glo, was dit pure toeval. As jy nog ’n rede het om hierna te kyk, het ons net twee woorde – Johnny Depp.