Die trauma en voortdurende media-aandag het Tanya Brown se lewe oorheers nadat haar suster Nicole Brown Simpson in 1994 wreed vermoor is. Op 24 was dit vir Tanya ’n reuse skok. In die jare daarna het sy ’n stryd gevoer met depressie en verslawing aan alkohol en dwelms. Sy het ook al oorweeg om haar lewe te neem.
Nou, 20 jaar ná die tragedie, praat sy oor die voorval in haar memoires, Finding Peace Amid the Chaos: My Escape from Depression and Suicide. Tanya (44) beskryf hoe sy en haar gesin in afgryse gekyk het hoe Nicole se bebloede lyk van die toneel verwyder word. Sy het haar ma se bewende hande in hare geneem toe dié sê: “Dis my kind daardie.” Nicole en haar vriend, Ron Goldman, is in Junie 1994 by haar huis in Los Angeles dood aangetref.
Nicole was getroud met die voormalige voetbalspeler OJ Simpson (66), maar hy is in 1992 van haar geskei. Hy was die hoofverdagte, maar Tanya sê sy kon aanvanklik nie glo hy is skuldig nie.
Op die dag dat hy by die polisie moes gaan aanmeld, het OJ hulle op ’n vreemde, stadige jaagtog gelei wat regstreeks uitgesaai is. Volgens Tanya weet die meeste mense nie dat OJ haar gesin tydens dié rit gebel het nie. Haar pa en suster Denise het met hom gepraat en probeer oortuig dat hy nie sy lewe moet neem nie. Sy onthou hoe haar pa hom gesmeek het: “Moet dit nie doen nie, Juice! Dink aan jou twee kinders, Juice! Moet dit nie doen nie!”
OJ het hom later oorgegee. Hy het Tanya uit die tronk gebel en vertel hoe lief hy haar suster gehad het en dat hy “sy lewe vir haar sou neerlê”. Toe hy Nicole die skuld gee vir die verbrokkeling van hul huwelik, het Tanya gesê Nicole het haar lewe aan hom toegewy. Hy het die foon in haar oor neergesit. “Ek het die gehoorbuis neergesmyt en begin huil. Ek kon die vermoede (wat baie mense ook gehad het) nie meer ontken nie,” sê sy. “Ek het daardie oomblik geweet wat hy aan my suster gedoen het.”
OJ se verhoor is regstreeks uitgesaai en het ’n jaar geduur. Dit word beskryf as die “verhoor van die eeu”. In 1995 is hy vrygespreek op die moordaanklagte teen hom.
Tanya se lewe het daarna buite beheer geraak as gevolg van depressie en alkohol- en dwelmverslawing. Tog het sy dit reggekry om “hierdie lelike ding in iets goeds te omskep”. Sy is nou ’n beradingsielkundige en motiveringspreker wat voorbrand maak vir geestesgesondheid. OJ het in 2008 weer met die gereg gebots: Hy is skuldig bevind aan ontvoering, gewapende roof en ander aanklagte. Hy moet nog minstens vier jaar tronkstraf uitdien.
- Petro-Anne Vlok
Bronne: people.com, dailymail.co.uk