Quantcast
Channel: Huisgenoot
Viewing all 9424 articles
Browse latest View live

Vir die Voëls: Ontmoet Edrien Erasmus

$
0
0

Ontmoet Edrien Erasmus. Sy vertolk die rol van Dina de Klerk, ma van Sampie en Marieda in Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die Voëls.

KLIK HIER om nog meer uit te vind van Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die Voëls. In bioskope vanaf 25 November 2016.


Hofstukke onthul waaroor Theuns Jordaan en Afrikaans is Groot stry

$
0
0

Die hare waai tussen die gewilde sanger Theuns Jordaan en die bestuur van die musiekkonsert Afrikaans Is Groot (AIG).

Hofstukke tussen die twee partye beslaan reeds 343 bladsye. ’n Regter moet nou teen Dinsdag besluit of die aansoek wat Theuns gebring het inderdaad dringend is en onmiddellik aangehoor moet word.

Dit volg nadat AIG Theuns vroeg in Oktober ingelig het dat hy nie meer aan die konsert deelneem nie, nadat hulle hom herhaaldelik gevra het om sy kontrak vir vanjaar se musiekkonsertreeks te teken.

Kaartjiehouers is reeds ingelig dat Theuns nie meer op AIG te sien sal wees nie.

Theuns het hom na die hof gewend in ’n poging om AIG te dwing om hom steeds deel van die vertoning te maak. Die bestuur van AIG kap egter terug en sê hulle kon nie langer wag om sy handtekening op vanjaar se kontrak te kry nie.

In hofstukke wat in Huisgenoot se besit is, vra Theuns om steeds deel van die konsert te wees wat oor vyf weke sowat 85 000 mense lok en waaraan hy vanjaar vir die vyfde keer sou deelneem.

“As ’n stigterslid het ek die reg om aan AIG deel te neem,” sê Theuns in sy verklaring. “Ek is sentraal tot AIG en het die afgelope vier jaar wins gedeel in die vertonings. Ek was nog altyd daartoe verbind om aan AIG 2016 deel te neem.”

In verdere hofstukke sê Arnold Coleske wat saam met sy broer, Ewald Coleske, in 2006 die idee vir die muskiekkonsert gekry het, dat Theuns al sedert 11 Maart vanjaar in besit is van die ooreenkoms wat aan hom gestuur is. En dat hy geen stappe geneem het om die terme en voorwaardes van die kontrak te bevraagteken nie.

“Soos die tyd verby gegaan het, het ek al hoe meer bekommerd geraak oor die feit dat Theuns die enigste kunstenaar is wat nie die ooreenkoms geteken het om sy deelname in vanjaar se vertoning te bevestig nie.”

Arnold sê dit was veral vir hom kommerwekkend omdat die vertoning soveel beplanning verg en hulle die verbintenis van Theuns af nodig gehad het.

Op 1 Augustus het Arnold vir Theuns ’n WhatsApp gestuur om hom aan die oorspronklike e-pos met die kontrak te herinner. Theuns het toe vir Arnold gesê dat hy sekere dinge met hom wou bespreek, maar Arnold het nooit weer van hom gehoor nie.

Teen 30 Augustus het Theuns nog geen ooreenkoms geteken nie en oproepe vermy, volgens die hofstukke. Hy het ook nie deelgeneem aan kritiese beplanning vir die vertoning nie. Arnold het weer vir hom ’n WhatsApp gestuur: “Kan ons praat oor jou vertonings by AIG.” Later weer. “Is jy beskikbaar vir koffie?”

Verdere boodskappe om hom in die hande te kry het gevolg, maar daar was geen teken van Theuns nie en hy het ook geweier om vergaderings by te woon en kwessies te bespreek wat hy geopper het.

Asseblief mense, sorteer dit uit.


In e-posse tussen Theuns en Brendon Hargroves van AIG in September blyk dit of Theuns vrae gehad het oor onder meer winste wat deur die CD’s van die vertoning en ander kommersiële aktiwiteite gemaak sal word.

Theuns sê in sy verklaring hy is al hoe meer onder druk geplaas om ’n ooreenkoms te teken met voorwaardes wat glad nie vir hom aanvaarbaar was nie. Hy sê hy weier om gemanipuleer te word in ’n kontrak in ’n bedryf waaruit hy ’n lewe maak.

Op 29 September het hy die kontrak geteken onder twee voorwaardes.

1. Dat hy die volledige verkope van CD’s en DVD’s van AIG sien en hoe die wins bereken is.

2. Hy wou ’n vergadering hê met Coleske Artists wat nie later as 19 Oktober moes plaasvind nie saam met een van die nuwe direkteure van AIG, Mark Rosin of Antonio Lee.

Dieselfde dag het Brendon geantwoord hulle kan nie langer vir Theuns wag om homself tot vanjaar se AIG te verbind nie, maar sal sy versoeke probeer nakom. Brendon vra of die direkteure kan tyd maak voor 19 Oktober vir ’n vergadering en sê ook Theuns is welkom om by die kantoor na die verkope van CD’s en DVD’s vir AIG te kom kyk.

Brendon maak dit duidelik dat Theuns dadelik moet laat weet of dit vir hom aanvaarbaar is sodat hulle sonder voorwaardes kan aanbeweeg.

Op 3 Oktober het Brendon Theuns toe laat weet omdat hy nie op Brendon se e-pos van 29 September gereageer het nie, kan hy nie meer langer by AIG optree nie.

Theuns sê egter in sy verklaring hy het nie geweet hy moet op die e-pos reageer nie.

Op 5 Oktober het Mark in antwoord op Brendon se versoek die partye in ’n e-pos ingelig dat nie hy of Antonio so ’n vergadering sal bywoon nie, omdat hulle nie by die operasionele deel van AIG betrokke is nie.

AIG voer aan al het Jordaan die kontrak geteken, maar een van sy voorwaardes (om ’n vergadering met een van die direkteurs te hê) is geweier, is die kontrak nie geldig nie.

Hulle sê ook Theuns se aanname dat hy as stigterslid moet deelneem is deel van ’n stigtersliddokument wat nog nie bekragtig is nie.

AIG voer ook aan dat Theuns se deelname by die produksie nog altyd deur kontrakte gereguleer is, ongeag dat hy sê dit was nie. Al voer hy aan dat hy daartoe “verbind was” om aan AIG deel te neem het sy dade in die maande tot voor die vertoning dit weerspreek.

In hofstukke wat Theuns vandag ingedien het in antwoord op AIG se argumente lê hy klem daarop dat dit die uitvoerende komitee waarvan hy ’n lid is se besluit is wie by AIG optree.

Hy verstaan ook nie Arnold se groot kommer dat hy die enigste kunstenaar was wat nie vanjaar ’n ooreenkoms geteken het om sy deelname aan 2016 se konsertreeks te bevesig nie, want hy het in 2015 ook opgetree sonder dat hy ’n ooreenkoms geteken het.

Arnold se verweer is dat daar wel vir elk van die ander jare getekende kontrakte was.

Theuns maak ook melding daarvan in die tyd dat vanjaar se ooreenkoms vir hom gestuur is, het dit bekend geraak dat Johan Vorster, ’n aandeelhouer in AIG, en Arnold se paaie geskei het en dit het kommer onder die kunstenaars veroorsaak oor die toekoms van AIG. Theuns het toe ’n vergadering daaroor met lede van die uitvoerende komitee belê, wat op 26 Julie plaasgevind het.

Oe la la! Sexy teeverkoper oornag ’n internetsensasie

$
0
0

Die een oomblik is jy nog besig met jou eie ding en verkoop jy teeblare; die volgende is jy ’n superster in die sosiale media.

Wel, dis nou as jou naam Arshad Khan is.

Dié 18-jarige man van Islamabad, hoofstad van Pakistan, het sy teestalletjie op die besige Itwar-basaar beman toe ’n verbygaande fotograaf, Jiah Ali, hom afneem, berig die BBC.

Jiah het die foto’s van die aanvallige teeverkoper op die sosiale media gedeel en dit vrypostig “Hot Tea” genoem. Die internet het bos gegaan.

Die fotograaf met die arendsoë het die foto’s van Arshad op 15 Oktober gedeel; teen 17 Oktober was #ChaiWala (teeverkoper) in Pakistan die mees bespreekte onderwerp op Twitter. Kort daarna het sy gewildheid na die buiteland uitgekring.

En Arshad? Die jong man van Mardan in die Khyber Pakhtunkhwa-provinsie is glo een van 18 sibbes en mal oor die lewe.

A photo posted by Jiah Ali (@jiah_ali) on

“Ongeveer 40 tot 50 meisies het my sedert vanoggend besoek,” het Arshad aan Samaa TV vertel.

Die volgende dag is hy glo deur die aanlyn kleinhandelsaak Fitin gehuur om modelwerk te doen vir die maatskappy, wat in Islamabad gesetel is, berig Quartz.

Daar is glo klaar foto’s van hom geneem vir Fitin se mansklerereeks. “Hy is nie meer net ’n teeverkoper nie; hy is nou ’n modeverkoper!” lui Fitin se plasing op Facebook.

7de Laan sê ná skokaankondiging wat die pad vorentoe behels

$
0
0

die skokaankondiging Donderdag dat 7de Laan dalk van Maandag af nie meer op die kassie te siene gaan wees nie, het die gewilde sepie pas gesê daar is dalk ‘n ligpunt aan die einde van die tonnel omdat episodes reeds tot vroeg volgende jaar opgeneem is.

Rosa-Mari Erasmus, publisiteitbeampte van 7de Laan, sê die produksiehuis het tot Januarie episodes opgeneem. Hulle wag net vir ’n kontrak van die SABC om die episodes aan die uitsaaikorporasie te oorhandig.

Die episodes word in hierdie stadium teruggehou.

“As ons nie ’n finale kontrak in plek het nie kan ons nie episodes aan die SABC oorhandig nie,” verduidelik Rosa.

Sy het bevestig daar is ’n moontlikheid dat 7de Laan nie Maandag op die lug gaan wees nie omdat die produksiehuis in die stadium nog nie ’n finale kontrak ontvang het nie.

’n Werknemer by 7de Laan het aan Huisgenoot bevestig die SABC het slegs 7de Laan-episodes tot Vrydag.

Die akteurs, skrywers en produksiespanne het Donderdagoggend ’n brief ontvang waarin hulle aangeraai word om ’n ander plan met hul debietorders te maak, want dit lyk nie of hul salarisse volgende week betaal gaan word nie.

Nog ’n bron verduidelk die SABC sloer al sedert Augustus met die produksiehuis se kontrak. Die produksiehuis betaal tot dusver die werknemers uit hul eie sak.

’n Werknemer van 7de Laan verduidelik indien ’n nuwe kontrak nie in plek is nie kan die produksiehuis nie episodes aan die SABC verskaf nie omdat daar nie finansies is om die episodes te vervaardig nie – die hele situasie kring dan uit en werknemers kan ook nie vergoed word nie.

Die SABC se woordvoerder, Kaizer Kganyago, kan sedert Donderdagoggend nie bereik word nie.

Pretoriase tiener met erge brandwonde suksesvol geopereer ná fratsongeluk

$
0
0

Die Pretoriase tiener wat Maandagmiddag in ’n fratsongeluk  erge brandwonde opgedoen het, is vanoggend suksesvol geopereer.

Sean Smith (16) het Maandag oor sy hele liggaam brandwonde opgedoen nadat hy iemand met karprobleme probeer help het. Hy het petrol gebruik om die olie van sy hande af te spoel. Dit is nog nie duidelik hoe die brand ontstaan het nie.

Sean het drie dae lank in die Unitas-hospitaal in Centurion gewag om ’n bed te kry in ’n brandeenheid in ’n staatshospitaal, maar die hospitale het laat weet hulle het nie plek nie. Sy ma, Mé-Lissa, was die week erg getraumatiseer deur die gebeure en boonop was sy onseker oor of haar kind sou oorleef. Sy kan ook nie die privaat hospitaal se koste van R700 000 betaal nie.

“As hierdie kind nie vinnig in ʼn teater kom nie, gaan hy doodgaan. Sy wonde is besmet en dit gaan nie goed met hom nie,” het Amoré Sameera Jooste, ʼn familievriend, gister aan Huisgenoot gesê.

Unitas-hospitaal het gisteraand bekendgemaak hulle sal die onkoste vir Sean se behandeling dek.

Volgens Robert Jordaan, algemene bestuurder van die Unitas-hospitaal, is hulle in hierdie stadium meer besorg oor Sean se welstand. Hulle wil seker maak hy is stabiel genoeg voor hy na ’n staatshospitaal oorgeplaas word.

“Ons sal hom elke dag evalueer en die onkostes dra tot hy ’n regverdige kans op oorlewing het,” het Robert gesê.

Amoré het gesê Sean is uit die teater en weer in die waakeenheid. “Hulle het vandag van die dooie weefsel verwyder.”

“Volgens die dokters het hy derdegraadse brandwonde aan sy hande, nek, ken en rug opgedoen. Daar is ook verskeie wonde aan sy bors en arms.”

Hy het ook derdegraadse brandwonde in sy gesig, maar sy ma sê sy oë is gelukkig nie beskadig nie.

Fanie du Preez se bekentenis geweier omdat hy polisieman wou ‘beswadder’

$
0
0

Regter Hennie de Vos het Donderdagmiddag in die Vereeniging-hof uitspraak gelewer oor die toelaatbaarheid van Fanie du Preez se bekentenis.

Fanie word daarvan aangekla dat hy sy vrou en twee kinders op Donderdag, 3 Desember 2015 in die vroeë oggendure in hul huis in Vanderbijlpark doodgeskiet het.

Hy het Donderdag sonder voetboeie in die hof verskyn.

Die hof het destyds gehoor Fanie het die polisie drie verskillende weergawes gegee van die gebeure daardie aand.

Hy het ook vroeër vandeesweek getuig hy was nie by sy “volle positiewe” toe hy die veelbesproke bekentenis aan landdros Lourens gemaak het nie.

Donderdagmiddag het die regter gelas Fanie se getuienis was daarop gemik om a.o. Alberts “te beswadder”.



Die regter het verder gesê Fanie het ’n storie uitgedink met die doel om op borgtog vrygelaat te word.

Fanie se getuienis in die binneverhoor is voorts verwerp. Die dokument sal nou as ’n verklaring gebruik word en nie as ’n bekentenis nie.

VIA-gunstelinge nou ook op ShowMax te sien!

$
0
0

Groot nuus vir liefhebbers van Afrikaanse realiteitsprogramme! Vanaf Donderdag is nie minder nie as nege van VIA (DStv-kanaal 147) se kookwaterprogramme op ShowMax Disaspora aan Suid-Afrikaners in die buiteland beskikbaar.

Plaaslike gebruikers van ShowMax sal self agt programme kan geniet. Local was nog nooit só lekker nie.

Die programme wat op ShowMax verskyn wentel om kos, styl en verhoudings. Kykers kan uitsien na die eerste drie seisoene van die ongewone reisprogram (1) Vrydag 4 uur, die eerste twee seisoene van (2) Pasgetroud en die eerste twee seisoene van die koel kosreeks (3) Padkos.

Dan is daar ook al die episodes van die gewilde geselsprogram (4) Driekuns waarin drie bekendes wat in dieselfde veld uitblink oor hul loopbane gesels sowel as die eerste drie seisoene van (5) Halfuur met Hanlie, ‘n kletsprogram met ‘n verskil.

Izelle Venter, VIA se kanaalhoof, sê hierdie gewilde leefstylkanaal en ShowMax is goeie pasmaats. “Ons albei is jong, vars platforms wat gehore op nuwe maniere wil vermaak. Ons glo ShowMax sal nog ‘n plek wees waar mense wat lief is vir eg Suid-Afrikaanse leefstylvermaak ons sal vind. VIA is een van Afrikaanse DStv-kykers se gunsteling-leefstylkanale. Dit is daarom gepas dat ons op die vooraand van ons eerste verjaarsdag nog ‘n platform betree.”

VIA se geliefde maatsoekprogram, (6) Die Kliek, se eerste drie seisoene sal ook op ShowMax beskikbaar wees. In (7) Op Pad Met Dana reis die gelyknamige skrywer Dana Snyman die land plat op soek na stories van hoop. Die eerste seisoen van die trefferreeks (8) Brood en Botter met die supersjef Bertus Basson kan ook geniet word.

En as jy oorsee woon, is VIA se gewildste program (9) Kom Ons Braai se eerste drie seisoene ook beskikbaar. In hierdie program kuier onbekendes oor en weer om te sien wie as die braaikoning van die episode gekroon word.

In Suid-Afrika kos ShowMax R99 per maand en aan ons buitelandse burgers, $8.99USD. Jy kan jou gunsteling-programme op enige rekenaar, slimfoon, tablet en slim-TV’s kyk.

Rocker se makkers hou vir hom ’n doekmakietie vir sy pienkvoet

$
0
0

By Francois van Coke se huis in Bellville was daar Dinsdag pure pret – met bier, braaivleis, rockmusikante en . . . babadoeke.

Dié rocker se vrou verwag hul eersteling. Lede van sy groep en sy vriende het dit toe goedgedink om vir hom ’n doekpartytjie/braai te reël waar almal met ’n pak babadoeke en ietsie te drinke opgedaag het.

“ ’n Paar van my vriende het al nappy parties gehad. Ek het gedink dit is iets wat nodig is,” sê Francois.

“Ek het natuurlik geen idee gehad watter doeke om te vra nie. Ek moes eers by my vriende wat kinders  het, hoor watter soort om te kry.”

Die hoofsanger van onder meer die rocksensasie Fokofpolisiekar sê hy is baie opgewonde daaroor om die eerste keer doeke te ruil. “Dit is iets om aan gewoond te raak. Negentig persent van my vriende het nog nooit ’n doek geruil nie, so dit was beslis ’n belewenis om hulle met doeke by my huis te sien opdaag.”

Het jul al gehoor van ‘n nappy party? #babyvancoke #ringovancoke 📷: @snakeskull666

A photo posted by Francois van Coke (@francoisvancoke) on

Swaargewig-rockers soos Laudo Liebenberg, voorbok van die groep aKING, Rufio Vegas, rapper en TV-aanbieder, Andrew Davenport van aKING en Thieve en Wynand Myburgh, Francois se jare lange makker en baskitaarspeler vir die Karre, was daar.

“Dit was regtig ’n baie lekker jol. ’n Mens kry nie altyd tyd om mekaar te sien nie en almal het tyd afgeknyp om daar te wees.”

Francois sê die babakamer is ook al ingerig. “My dogtertjie moet nou net haar verskyning maak. Die bal is aan die rol,” het hy opgewonde oor die foon gesê.

Nappy boys! Niks beter as ‘n Dinsdag braai nie.

A photo posted by Francois van Coke (@francoisvancoke) on


Kyk: Skrikwekkende haelstorm tref Bloemfontein!

$
0
0

Na ‘n uitgerekte droogte en die lafenis van reën, het ‘n willewragtag-haelstorm Bloemfontein Donderdagmiddag getref.

Jacques Steenkamp van Bloemfontein het hierdie drie foto’s met ons gedeel. Dis by John Willams motors in Bloemfontein geneem.

Foto: Jacques Steenkamp.

Foto: Jacques Steenkamp.

Foto: Jacques Steenkamp.

Foto: Jacques Steenkamp.

Foto: Jacques Steenkamp.

Foto: Jacques Steenkamp.


Hier’s ‘n paar foto’s en videogrepe wat laatmiddag op Twitter gedeel is.












Jou sterre vir Vrydag, 21 Oktober 2016

$
0
0

Hier is wat jou sterre vandag voorspel, met Joanne Moore.

JOU DAG
Vandag se Kreefmaan is gunstig wat kontak met geliefdes betref.

AS JY VANDAG VERJAAR
Jy is baie oorredend en kan die mense om jou beïnvloed. In 2017 moet jy met volop passie en doelgerigtheid op jou gekose pad bly.

RAM 21 Mrt.-20 Apr.
Daar is ’n neiging om vandag te oorreageer. Koel af en raak kalm voor jy iets sê of doen waaroor jy later spyt gaan wees.

BUL 21 Apr.-21 Mei
Duidelike kommunikasie is die sleutel tot ’n kreatiewe, positiewe en produktiewe dag. As jy pal met ’n gesondheidsprobleem sukkel, is dit dalk tyd om proaktiewer te wees en ’n tweede opinie te kry.

TWEELING 22 Mei-21 Jun.
Die Maan is vandag in die Kreef-teken, so streef daarna om na ’n baie spesiale mens om te sien: jouself. Roep mooiweersvriende ook vaarwel toe en omring jou met mense wat jou selfdunk kan verhoog.

KREEF 22 Jun.-23 Jul.
Kreatiwiteit en deernis word vandag beklemtoon terwyl jy groot droom of ’n ambisieuse doelwit begin najaag. Weerstaan egter die behoefte om veroordelend te wees teenoor dit waardeur ’n gesinslid gaan.

LEEU 24 Jul.-23 Aug.
Leeus geniet dit om hulle in die kollig te verlustig. Jy is mal daaroor om die middelpunt van belangstelling te wees, maar is dit nie eerder tyd om ’n geliefde sy/haar oomblik in die son te gun nie? Staan ’n oomblik op die kantlyn en kyk hoe hy/sy skyn.

MAAGD 24 Aug.-23 Sept.
Kontak met ander mense word vandag bevoordeel, ongeag dit nou in ’n groepsituasie of aanlyn is. Waar ’n ingewikkelde geldkwessie ter sprake is, gaan dit die beste wees om vriende en finansies apart te hou.

WEEGSKAAL 24 Sept.-23 Okt.
Jy is op die een of ander manier in die kollig terwyl jy jou boodskap hard en duidelik oordra. Studie en opvoeding kom ook onder die loep. Gee jou breinselle dus oefening en leer iets nuuts.

SKERPIOEN 24 Okt.-22 Nov.
Dit is ’n fantastiese tyd om jou finansiële geletterdheid te verbeter deur te lees of ’n paar nuwe vaardighede by ’n kenner te leer. Jy sal sien: Hoe meer gedissiplineerd en gefokus jy raak, hoe beter gaan jou fiskale toekoms wees.

BOOGSKUTTER 23 Nov.-21 Des.
Wat ’n frustrerende probleem met ’n gesinslid betref, is dit nie so eenvoudig soos dit lyk nie. Moet dus nie net instorm en sake vererger nie. ’n Sensitiewe, deernisvolle benadering sal die beste werk.

STEENBOK 22 Des.-20 Jan.
Kritiseer jy ander en probeer jy hulle beheer? Sorgsame, deernisvolle kommunikasie met ander sal vandag baie vrugte afwerp.

WATERDRAER 21 Jan.-19 Feb.
Met die maan wat deur jou gesondheid- en fiksheidsone beweeg, moet jy jou drafskoene uitpak en in die gimnasium of buitelug aan die beweeg kom. Kan jy ook sommer jou dieet aanpas om meer voedsame maaltye in te sluit?

VISSE 20 Feb.-20 Mrt.
Jy voel baie kreatief, maar moenie weens huiwering en oorpeinsing wonderlike idees vermors nie. Dit is ’n wonderlike dag om ’n geliefde te vertel hoeveel jy regtig omgee.

© Joanne Madeline Moore

Wen ’n Avène-produkpak vir sensitiewe vel ter waarde van R750

$
0
0

Avène Thermal Spring Water (warmbronwater) se unieke dubbele mineraal en biologiese kenmerke bied ’n deurbraak in dermatologie vir sensitiewe velle.

Dit word in alle Avène-produkte gebruik en het strelende, anti-irritasie- en anti-inflammatoriese eienskappe wat wetenskaplik bewys is in ’n wye verskeidenheid aanwendings.

’n Aantal gebruike vir Avène warmbronwater:

Multiple-Uses-ATSW-01

Avène-warmbronwater is die voorste warmbronwater in Europa en sal vir ’n beperkte tyd in ’n 300 ml-waardebottel beskikbaar wees, eksklusief by uitgesoekte Clicks-winkels landwyd vanaf einde Oktober 2016.

Die Avène Tolérance Extrême-reeks steriele gesigsorgprodukte bevat aktiewe bestanddele wat gekies is vir hul suiwerheid, toleransie en doeltreffendheid en het absoluut geen byvoegings wat moontlik irritasie kan veroorsaak nie, danksy die gepatenteerde DEFI- (Device for Exclusive Formula Integrity) stelsel.

Hamper-02-768x384

WEN

Drie gelukkige lesers kan die #AveneSensitieweVelOplossing wen. Skryf nou in en kry ’n kans om ’n Avène-produkpak vir sensitiewe en intolerante vel te wen. Dit produkpak sluit Avène Thermal Spring Water 300 ml Beperkte Uitgawe, Avène Tolérance Extrême Reiningsroom en Avène Tolérance Extrême Room in.

Om in te skryf, vul bloot die vorm in en beantwoord die vraag hieronder:

Is Avène produkte geskik vir sensitiewe vel?

Kompetisiereels, bepalings en voorwaardes: Die kompetisie is oop van 21 Oktober tot 17 November. Jy mag soveel keer inskryf as wat jy wil. Personeel van Media24 en die borg (Avène), sowel as hul families, mag nie inskryf nie. Wenners sal gekies word deur ’n lukrake trekking. Wenners sal telefonies in kennis gestel word. Ons sal drie keer probeer om ’n wenner te kontak, binne besigheidsure. As hy of sy nie bereik kan word met een van die drie oproepe nie, sal ’n nuwe wenner getrek word. Media24 en die borg van die prys aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade wat mag spruit uit deelname aan die kompetisie nie. Pryse is nie oordraagbaar nie en mag nie vir kontant verruil word nie. Die borg is verantwoordelik daarvoor om die prys binne ’n redelike tyd te verskaf (4 – 6 weke). Die kleur van ’n prys kan nie gewaarborg word nie en is onderhewe aan beskikbaarheid van voorraad. As jy inskryf vir die kompetisie, aanvaar ons dat jy Media24 toestemming gee om jou soms te kontak met promosies en ander bemarking.

Derick Hougaard antwoord: Kan die Bulle die onoorwonne Cheetahs die naweek klop?

$
0
0

Saterdag gaan dinge omtrent warm raak in Bloemfontein. Die onoorwonne Cheetahs is die gunsteling om vanjaar die Curriebeker omhoog te hou en rugbykenners is dit eens: Die Bulle gaan moet uithaal en wys om hulle te klop.

Die oud-Bul Derick Hougaard, die sogenaamde liefling van Loftus, het hieroor gesê:

Derick glo die Bulle het beslis ’n kans om môre te wen. Die spelers is almal redelik onervare wat eindstryde betref omdat albei spanne lank laas in ’n eindstryd van enige aard was.

“Daar is baie druk op die Cheetahs, want daar is baie rekords wat kan spat,” het Derick aan Huisgenoot gesê.

“Daar is spanne wat dit al reggekry het om deur ’n hele seisoen onoorwonne te wees en die eindstryd te wen. Dit sal baie sleg wees as die Cheetahs nie die naweek wen nie. Die spelers weet hulle het nog net een wedstryd om te wen.

“Uit ervaring weet ek as jy die gunsteling is om te wen, voel jy so gespanne, want jy weet jy moet wen. Die Bulle, wat die underdogs is, kan net elke oomblik geniet. Hulle het ook al in meer eindstryde gespeel, maar vir hulle gaan die geskiedenis nie so ’n groot rol speel nie.”

Volgens Derick moet die Bulle foute tot die minimum beperk as hulle die Cheetahs môre wil klop. Daarby sal hulle ook op hul verdediging moet konsentreer.

“Die Cheetahs het 50 punte teen die Leeus aangeteken. Dit wys hulle doen iets reg. Hulle het die vermoë om openinge te skep.

“As die Bulle nog die laaste 20 minute in die wedstryd is, kan hulle wen. Ek het ’n gevoel en spesmaas die Bulle gaan mense môre verras.”

Derick sê dit is lekker om weer opgewonde te wees oor rugby. Ná wat alles met die Springbokke gebeur het, tydens die Superreeks en met alles wat van die veld af gebeur het, was daar min waaroor ondersteuners opgewonde kon raak.

Maar die laaste twee weke het die Curriebeker-ondersteuners weer lewe gegee. “Ek het lank laas uitgesien daarna om op ’n Saterdag voor die televisie te gaan sit en rugby te kyk.

“Ek dink nie eens iemand wat weddenskappe aangaan, het ’n idee wat môre gaan gebeur nie.”

Derick het op die vooraand van die titaniese stryd wat op rugbygeesdriftiges wag ook ’n roerende boodskap aan sy alma mater geskryf:

“Vir die hele Blou Bul-span wat vandag Bloemfontein toe vertrek! Ek hoop Saterdagmiddag is een wat geen speler ooit sal vergeet nie.

“Legendes word gebore op dae soos môre, dae wat nie baie oor jou pad kom nie. Jare se harde werk vir 80 minute op die veld; daarom is die druk geweldig. Moenie vergeet om dit bo alles te geniet nie.

“Min spelers is so gelukkig om in ’n Curriebeker-finaal te speel. Niemand kan dit ooit van jou wegvat nie, om ’n kampioen te wees.

“Gaan daar in die wedstryd ’n tyd kom dat jy diep in jou siel moet delf vir daai ietsie ekstra wat dalk nie moontlik klink nie of ’n plek waar jou geestelike krag of liggaam nog nooit was nie.

“Maar dis die speler wat dit regkry wat vir jare se roem kan sorg. En dis ’n herinnering wat jy die res van jou lewe sal koester.

Legends never die. Sterkte aan almal.”

Kyk: Sterwende seuntjie van Port Elizabeth se lewensdroom deur paramedici bewaarheid

$
0
0

Mohamed is net sewe jaar oud, maar die kans dat dié seuntjie van Port Elizabeth nog ’n verjaardag gaan vier, is bitter skraal. Dit beteken egter nie die dapper outjie het nie ’n droom nie . . .

Op Donderdag 20 Oktober 2016 het Netcare 911-paramedici van KwaZulu-Natal ’n oproep ontvang wat ’n reuse-impak op hulle en die moedige kankerlyertjie sou hê.

Die nasionale liefdadigheidsorganisasie Reach for a Dream het Mohamed en sy gesin Durban toe geneem om sy groot droom te bewaarheid: om saam met die dolfyne te swem.

Maar Mohamed se toestand het so versleg dat hy in die Netcare Umhlanga-hospitaal opgeneem moes word. Sy droom om saam met die dolfyne te swem, het onbereikbaar gelyk.

Foto met vergunning: Arrive Alive/Netcare 911

Foto met vergunning: Arrive Alive/Netcare 911

Sy pa het Mark van Heerden, die hospitaalbestuurder, om hulp gevra om sy seun se droom te help bewaarheid.

Netcare 911, die hospitaal en Ushaka Marine World het blitsvinnig ’n plan gemaak.

Mohamed is onder deurlopende toesig van gevorderde-lewensteun-paramedici met ’n ambulans na Ushaka Marine World geneem.

Foto met vergunning: Arrive Alive/Netcare 911

Foto met vergunning: Arrive Alive/Netcare 911

Omstanders, en selfs van die gehardste paramedici, kon nie hul emosies beheer toe die dolfynhanteerder een van die dolfyne nader roep nie.

Mohamed kon nie net aan die dolfyn raak nie; hy is ook toegelaat om dit te voer.

A photo posted by Netcare911 (@netcare911) on

“Sy gesigsuitdrukking is ingebrand in die harte van dié wat hierdie ongelooflike oomblik aanskou het,” het Netcare 911 gesê.

Ná sy opwindende kennismaking met die dolfyn is Mohamed teruggeneem hospitaal toe. Hy moes rus voor hy met die Netcare-straler na die King Shaka Internasionale Lughawe geneem is.

A photo posted by Netcare911 (@netcare911) on

Such passion, Care and love for a child is mind blowing #netcare911 #savealife

A photo posted by Netcare911 (@netcare911) on

Mohamed is nou weer in die hospitaal naby sy huis in Port Elizabeth.

Bronne: netcare911.co.za, arrivealive.co.za

Hof hoor van Libanese dwelmbase wat Fanie du Preez glo agtervolg het

$
0
0

Fanie du Preez, wat daarvan aangekla word dat hy sy vrou en twee kinders in Desember 2015 vermoor het, se verklaring oor Libanese dwelmbase is Vrydag in die Vereeniging-hof voorgelê.



Die verklaring is op 4 Desember 2015 voor landdros Lourens afgelê. Dis deur kol. Francois van der Merwe in die hof voorgelees.

Volgens die verklaring het dwelmbase Fanie deurerntyd gedreig. Dit het hom egter nie juis gepla nie; hy het ’n vuurwapen aangeskaf en sou binnekort uit Springs trek.

Na bewering het die dwelmbase hom ook dopgehou en hom dwelms gegee.

Francois het voorgelees hoe die Libanese dwelmbase Fanie glo gedwing het om van kamer tot kamer te loop en sy gesin te skiet.



KC Koertzen, die vermoorde Thea se swaer, het ook in die getuiebank verskyn.

KC het om halfvyf die oggend op die moordtoneel aangekom. Fanie het kalm aan hom gesê: “Alles is ’n  flop.” Sy ma het gesê almal is dood.



Hy het die moordhuis binnegegaan. Carlia was op haar bed en Philip op die vloer. Hy kon egter nie verder deur die huis gaan nie.

Die staat het Vrydag sy saak gesluit. Dit sal op Dinsdag 25 Oktober 2016 hervat word.

Hartseer nuus vir prinses Diana se familie

$
0
0

Prinses Diana se stiefma, gravin Raine Spencer, is vanoggend ná ’n kort siekte oorlede, het haar familie bevestig.

Raine (87) is vanoggend by haar huis in Londen oorlede, het haar seun, William Legge (67), hertog van Dartmouth in ’n verklaring gesê.


Sy was die enigste dogter van die Britse skrywer dame Barbara Cartland en Alexander McCorquodale, ’n weermagoffisier.

Sy is in 1976 getroud met Diana se pa, graaf Johnnie Spencer. Hy was haar tweede man. Hulle was 16 jaar getroud toe hy in 1992 oorlede is. Sy het twee jaar later weer afgehaak.

Diana het glo nie veel ooghare vir haar stiefma gehad nie, word berig. Hul verhouding was glo so gespanne dat sy na Raine as “Acid Raine” verwys het.

Lees ook: Pragtige prinses Di – 19 jaar weg, maar steeds in ons hart – kyk ons fotoverhaal

Hulle het glo in 1995, drie jaar ná Diana se pa se dood, die strydbyl begrawe. Persoonlike briewe tussen die twee, wat in 2012 uitgelek het, wys ’n sagter kant aan hul verhouding.

“Diana was ’n lieflike mens,” het Raine verlede jaar in ’n onderhoud gesê. “Sy het ongelooflike druk op haar gehad, maar ons was op die ou end goeie vriendinne. Sy het altyd by my op die rusbank kom sit en  my van haar probleme vertel. Ek is baie bly daaroor.”

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, THESUN.CO.UK, TELEGRAPH.CO.UK


Nuwe openbare beskermer staan Zuma nie teen nie

$
0
0

Die nuwe openbare beskermer gaan nie president Jacob Zuma se hofaansoek om te keer dat sy sogenaamde staatskaping-verslag uitgereik word, teenstaan nie.

Volgens Karyn Maughan van eNCA het die nuwe OB, advokaat Busisiwe Mkhwebane, Vrydagmiddag hofstukke by die hooggeregshof in Pretoria ingedien waarin sy sê sy sal haar neerlê by wat ookal die hof besluit.


Mkhwebane se voorganger, adv. Thuli Madonsela, het die “staatskaping-verslag” verlede Vrydag op die laaste dag van haar ampstermyn gefinaliseer.

Madonsela het Vrydag getwiet dat sy nie verwag het om haarself in haar eerste week nadat sy uitgetree teen “twyfelagtige aanvalle” te verdedig nie.


Dit kom na verskeie uitsprake wat Mkhwebane hierdie week gemaak het wat skynbaar krities oor Madonsela was en die indruk gewek het dat sy haarself van Madonsela wil distansieer.

Mkhwebane sê in die hofstukke sy het nog nie tyd gehad om die verslag en die implikasie daarvan in diepte te bestudeer nie. Sy sê ook haar regsadvies dui daarop dat die stappe wat in die verslag aanbeveel word verrykende gevolge kan hê.



Dis om dié rede dat sy die aansoek van die president om die uittreiking van die verslag te keer nie teenstaan nie.

Sy het ook gesê die hof moet besluit of die president en Des van Rooyen, die minister van samewerkende regering, die ander applikant in die saak, meer tyd moet hê om vertoë tot die OB te rig. Sy sê ook sy is onseker of sy die verslag wat deur haar voorganger gefinaliseer is, kan aanpas.

Sy is ook bereid om die verslag aan die hof beskikbaar te stel indien die hof dit sou aanvra.

Al die watertandresepte uit vanaand se Kom ons Braai

$
0
0

Wouter en Marise skop die Roodepoort braai af met ’n verrassende spyskaart terwyl Leon en Johan ’n hoedebraai hou. Gert en Caruschka vermaak die gaste met ’n twee-wiel-braaitema.

Gert en Caruschka

Gert en Caruschka

Ystermansteak

Bestanddele

olyfolie
worcestersous
3 kg kruisstuksteak, by die slaghuis saggemaak

Metode
1 Smeer die olyfolie en worcestersous oor die vleis. Laat staan 1 uur.
2 Braai oor warm kole tot so gaar soos verlang.

Pepersous
Bestanddele

1 e (15 ml) botter
3 e (45 ml) groenpeperkorrels
2 t (10 ml) swartpeperkorrels
1 k (250 ml) beesvleisaftreksel (met verlaagde soutinhoud)
2 e (30 ml) wit- of rooiwyn
2 t (10 ml) brandewyn, port of sjerrie (opsioneel)
2 e (30 ml) vars room
1 t (5 ml) uiepoeier (opsioneel)
2 t (10 ml) meel om te verdik
seesout na smaak
2 t (10 ml) koue water

Metode
1 Smelt die botter in ’n klein pan oor matige hitte.
2 Voeg die peperkorrels by en kook 20 sek. in die borrelende botter.
3 Voeg die aftreksel, wyn en ander alkohol (indien gebruik) by en bring tot kookpunt.
4 Verlaag die hitte en laat prut 5 min. om die sous te verminder en die alkohol af te kook.
5 Voeg die room by en kook nog 5 min. sodat die sous effens verdik.
6 Klits die uiepoeier (indien gebruik) en meel by. Geur met die sout.
7 Voeg die water by en klits tot dik.

Bloukaassous

Bestanddele
1 stokkie sagte botter
1 groot geel-ui, gekap
1 k (250 ml) volroom-room
3-4 e (45-60 ml) worcestersous
sout en peper na smaak
¾ k (190 ml) bloukaas, gekrummel

Metode
1 Smelt die botter in ’n groot pan oor matige tot hoë hitte.
2 Braai die ui tot goudbruin, so 7-8 min.
3 Voeg die room en worcestersous by en geur met die sout en peper. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte en voeg die bloukaas by. Roer tot die bloukaas gesmelt het, proe en geur nog indien nodig.

Gert en Caruschka

Grondboontjie-broslekkerslaai

Bestanddele
2 t (10 ml) bruinsuiker
½ k (125 ml) balsemieke asyn
2 avokado’s
aarbeie, gekap
1 pakkie roketblare
fetakaas
grondboontjiebroslekkers (brittle), gekrummel
swartpeper

Metode
1 Meng die suiker en asyn in ’n klein pot oor lae hitte tot verdik.
2 Voeg die res van die bestanddele bymekaar en bedruip met die slaaisous.

Rubber-en-rim-swartpotpoeding

Bestanddele
1 pakkie Tennis-beskuitjies
200 g botter
4 oliebolle
1 blik tertappels
1 blik pere
250 g rosyntjies
1 blik kondensmelk
1 t (5 ml) kaneel
1 pak klappermalvalekkers

Metode
1 Druk die koekies fyn en smelt die botter. Meng en vorm ’n kors onderin die swartpot.
2 Sny die oliebolle in stukke en pak bo-op. Voeg die appels, pere, rosyntjies, kondensmelk en kaneel by.
3 Maak die pot toe en plaas in die kole met ’n paar kole op die deksel. Laat 30 min. prut.
4 Maak die pot oop en gooi die malvalekkers in. Maak weer toe, pak kole bo-op en onder en laat prut nog 20 min.

Wouter en Marise

Wouter en Marise

Gevulde hoender
Bestanddele

hoender
repiespek
roomkaas
jalapenos
blatjang

Metode
1 Ontbeen die hoender.
2 Pak genoeg van die spek op ’n vel foelie om die ontbeende hoender te bedek.
3 Vou die hoender met die spek toe en vul dit met die roomkaas, jalapenos en blatjang. Rol die hoender styf met die foelie toe en braai tot gaar.

Roosmarynskaaptjoppies

Bestanddele
vars roosmaryn
skaaptjops
olyfolie
sout en peper

Metode

1 Sny die roosmarynblaartjies met ’n skerp mes fyn.
2 Plaas die tjoppies in ’n bak en smeer met die olyfolie. Sprinkel die roosmaryn, sout en peper oor.
3 Masseer die kruie in die vleis en laat lê sodat die geur intrek. Braai oor warm kole tot so gaar soos verlang.

Groentepakkie

Bestanddele
patats
baba-mielies
murgpampoentjies
geel soetrissie
rooi-ui
soetrissiesous
bokmelkkaas

Metode
1 Bedek ’n vel tinfoelie met bakpapier.
2 Kap die patats, mielies, murgpampoentjies, soetrissie en ui in happiegroottes.
3 Rangskik ’n hand vol groente, ’n bietjie soetrissiesous en ’n stukkie bokmelkkaas in die middel van die bakpapier.
4 Vou die foelie toe en plaas in die kole tot gaar.

Wouter en Marise

’n Anderster groenslaai

Bestanddele
1 pakkie baba-spinasie
1 pakkie aarbeie (ongeveer 10), in kwarte gesny
Deense fetakaas, in blokkies gesny
½ k (125 ml) sonneblomsade
balsemieke asyn

Metode
1 Plaas die baba-spinasie in ’n slaaibak. Sny die aarbeie en plaas bo-op.
2 Voeg die fetakaas by en meng die bestanddele versigtig.
3 Plaas die sonneblomsade in ’n warm pan, voeg die asyn by (genoeg om sade te bedek) en braai tot ligbruin. Laat die sade afkoel en strooi oor die slaai.

Plaasbederfie

Bestanddele
brooddeeg (gekoop)

Metode
1 Verdeel die deeg in balletjies en plaas in ’n oondvaste broodpan.
2 Bak in die kole of ’n Weber oor matige hitte tot gaar.

Gebakte lemoen

Metode
6 lemoene
1 blikkie karamel
1 pakkie koekmengsel (sjokolade of vanielje)
6 sjokoladeballetjies
room

Metode
1 Hol die lemoene uit en smeer hulle met die karamel sodat enige gaatjies toegemaak is. Dit verhoed dat die deeg uitloop.
2 Meng die koekmengsel volgens die aanwysings op die verpakking.
3 Voeg ’n sjokoladeballetjie in elke lemoen. Giet die deeg in die lemoen. Maak half vol.
4 Plaas in die kole tot die deeg gaar is.
5 Sit voor met die room.

Leon en Johan

Johan en Leon

Aartappels

Bestanddele
baba-aartappels
botter
kokosneutolie
gerookte paprika

Metode
1 Mikrogolf die aartappels tot halfgaar. Kook oor die kole tot gaar.
2 Dreineer die water, braai in die botter en kokosneutolie en geur met die paprika.

Gemengde groente

Bestanddele
gemengde groente van jou keuse
Griekse slaaisous

Metode

1 Kook die groente in ’n pot op die vuur tot amper gaar. Haal af, plaas in tinfoelie en geur met die slaaisous.
2 Vou die foelie in ’n pakkie toe en plaas terug op die kole.
3 Stoom tot die geure lekker deurgetrek het.

Filet

Bestanddele
Six Gun-spesery
braaispesery
balsemieke asyn
olie
worcestersous
filet, in dik skywe gesny

Metode
1 Meng die speserye, asyn, olie en worcestersous en marineer die filet tot braaityd daarin.
2 Braai oor warm kole tot so gaar soos verlang.

Hoendervlerkies

Bestanddele
hoendervlerkies
suurlemoen-kruiemarinade
bloukaasdoopsous

Metode
1 Marineer die hoendervlerkies in die marinade.
2 Braai oor matige kole tot deurgaar.
3 Sit voor met die bloukaasdoopsous.

Leon en Johan

Koolslaai (bestaande resep)

Bestanddele
45 ml (3 e) olyfolie
1 x 200 g-pak blokkiespek
½ kop groen kool
½ kop pers kool
250 ml (1 k) ongegeurde jogurt
125 ml (½ k) mayonnaise
1 x 145 g-bottel geroomde peperwortel
2 brandrissies, fyn gekap
1 hand vol vars koljanderblare, fyn gekap
sout en vars gemaalde swartpeper
vars basilie

Metode
1 Verhit die olyfolie in ’n groot braaipan tot warm.
2 Voeg die spek by en roerbraai tot goudbruin en bros.
3 Sny die kool met ’n skerp mes in dun repies. Plaas in groot mengbak.
4 Meng die jogurt, mayonnaise, peperwortel, brandrissies en koljander in ’n aparte mengbak om slaaisous te maak.
5 Voeg die gebraaide spek en olie by die sous. Meng goed en geur met die sout en peper.
6 Gooi oor die gesnyde kool en meng deur. Garneer met die basilie.

Pannekoek (bestaande resep)

Bestanddele
120 g koekmeel
5 ml (1 t) bakpoeier
2 ml (½ t) sout
2 eiers
200 ml melk
200 ml water
5 ml (1 t) brandewyn of suurlemoensap
125 ml (½ k) kookolie
suurlemoenskyfies vir garnering

Van der Hum-sous
60 ml Van der Hum-likeur
120 g botter
250 ml (1 k) bruinsuiker
3 ml (½ t) gemaalde kaneel
3 ml (½ t) gerasperde suurlemoenskil
4 piesangs, in die lengte gehalveer

Metode
1 Sif die meel, bakpoeier en sout saam.
2 Klits die eiers en melk saam en voeg by die meelmengsel.
3 Voeg die water by en klits tot die mengsel soos dik room lyk.
4 Giet die brandewyn of suurlemoensap en kookolie by en roer goed. Bak die pannekoek in ’n geoliede pan oor warm kole.
5 Van der Hum-sous Verhit die likeur, botter, bruinsuiker, kaneel en suurlemoenskil saam tot die suiker opgelos en die botter gesmelt het.
6 Voeg die piesangs by en laat prut ’n paar minute.
7 Plaas ’n halwe piesang op elke pannekoek en rol toe. Pak in ’n opdienbak en gooi die oorblywende sous oor. Sit elke pannekoek met ’n skyfie suurlemoen voor.

Jou sterre vir die naweek (22-23 Oktober 2016)

$
0
0

Hier is wat jou sterre vandag voorspell, met Joanne Moore.

SATERDAG
JOU DAG

Die sterpatrone is gunstig vir gesels, omgee en skeppend wees.

AS JY VANDAG VERJAAR
Jy is sjarmant, maar in 2017 moet jy minder van ’n beheervraat wees. As jy ’n voorloper wil wees, moet jy nie die hulp van geliefdes wegwys nie.

SONDAG
JOU DAG

Die Leeu-Maan moedig sosiaal wees en spontaniteit aan.

AS JY VANDAG VERJAAR
Jy kan jou baie energie op onbesonne maniere verkwis. Deur die komende jaar moet jy seker maak jy benut jou goeie gemoed op positiewe, produktiewe maniere.

RAM 21 Mrt.-20 Apr.
As jy jou kreatiwiteit balanseer met hulp aan ander, gaan jy ’n stimulerende en bevredigende naweek ervaar. Maak seker daar is tyd om te rus, ontspan en verfris.

BUL 21 Apr.-21 Mei
Die son skuif tot in jou verhoudingsone. Dit is dus tyd om terug te staan en jou naasbestaandes tot hul reg te laat kom. Hoe meer jy ander aanmoedig, hoe beter sal die naweek raak.

TWEELING 22 Mei-21 Jun.
As jy hierdie naweek moet werk, streef daarna om dit so kreatief en proaktief moontlik te doen. Doen ook jou bes om uit te reik na ’n geliefde wat ekstra aandag en liefde kort.

KREEF 22 Jun.-23 Jul.
Baie knorrige Krewe gaan Saterdagoggend gespanne voel, maar dinge sal mettertyd verbeter. Sondag is puik vir ’n gesinskuier of om die buitelewe saam met vriende te ontdek.

LEEU 24 Jul.-23 Aug.
Dit is ’n wonderlike naweek om ’n kreatiewe stuk aanlyn te stuur, deernisvol met ander te kommunikeer of hand by te sit met ’n gemeenskapsprojek. Jy het baie talente.

MAAGD 24 Aug.-23 Sept.
Jou goedheid en deernis word gewek terwyl jy met jou innerlike muse kontak maak of ’n vriend help. Sommige Maagde gaan déjà-vu ervaar as hulle iemand ontmoet of ’n “nuwe” plek besoek.

WEEGSKAAL 24 Sept.-23 Okt.
Mercurius en Jupiter reis deur jou teken. Dit verhoog jou nuuskierigheid en jou neiging om baie te praat. Jy het heelwat op die hart, maar maak seker jy staan tyd af om na ander te luister.

SKERPIOEN 24 Okt.-22 Nov.
Met die maan wat deur jou openbare sone beweeg en die son wat tot in jou teken skuif, gaan ander mense hierdie naweek jou pogings raaksien. Maak dus seker jy lewer ’n indrukwekkende vertoning.

BOOGSKUTTER 23 Nov.-21 Des.
Jy gaan hierdie naweek baie positief voel noudat Venus wat in jou teken is. Dit gee jou meer selfvertroue en gee jou kreatiwiteit ’n hupstoot. Dis ook die ideale tyd om die eerste tree te gee na ’n emosionele verbintenis met ander.

STEENBOK 22 Des.-20 Jan.
Slim Steenbok, jy gaan dalk met ’n kreatiewe oplossing vir ’n dringende probleem vorendag kom. Hou egter eers jou skapies in die kraal en sê eers iets wanneer jy gereed is en jou plan tot uitvoering kan bring.

WATERDRAER 21 Jan.-19 Feb.
Jy wil hierdie naweek graag bande hernu met intieme vriende terwyl jy inskakel op hoe ander mense voel. Groepsaktiwiteite word ook bevoordeel terwyl jy met kreatiewe, eendersdenkende sielsgenote kontak maak.

VISSE 20 Feb.-20 Mrt.
Wat is jou toekomsplanne? Is hulle ambisieus genoeg? Met ’n bietjie kreatiewe visualisering en skrumdink kan jy jou doelwitte en drome agtermekaarkry en verwesenlik.

© Joanne Madeline Moore

Jim Carrey en sy eks se ma pak mekaar ná dreigemente heen en weer vlieg

$
0
0

Jim Carrey (54) is nou in ’n regstryd gewikkel met sy oorlede eksmeisie se ma. Die akteur het dokumente ingedien waarin hy beweer Brigid Sweetman, ma van Cathriona White, het hom gesmeek om vir haar ’n huis te koop en gedreig om haar lewe te neem.

Jim beweer Brigid het hom verlede November, twee maande nadat haar dogter selfdood toegepas het, per e-pos ingelig mense dreig haar met die dood en vandaliseer haar huis.

Volgens Brigid is sy vir Cat se dood geblameer nadat sy op die derde herdenking van Cat se pa se dood iets aakligs en vernederends op Facebook gesê het. Jim beweer Brigid het in die e-pos gesê “ek is op die punt om myself dood te maak” en daarna het sy hom gevra om vir haar ’n nuwe huis te koop. Die akteur sê sy het “kwaad en bitter” geraak toe hy weier.

Vroeër vandeesmaand het Brigid weens haar dogter se dood stappe teen die filmster gedoen. Sy regspan het onmiddellik teruggekap en beweer haar regsgeding is ’n poging om geld uit die akteur te kry.

Jim het ook bewerings van Brigid en Mark Burton, Cat se vervreemde man, as onwaar afgemaak. Hulle beweer hy het die grimeerkunstenaar ’n seksueel oordraagbare siekte (SOS) gegee en dit het na bewering bygedra tot haar besluit om ’n einde aan haar lewe te maak.

Brigid het verlede week belowe om haar regsaksie te laat vaar as Jim die uitslag van ’n geslagsiektetoets bekendmaak.

’n Verklaring wat aan thewrap.com uitgereik is, lui: “Jim Carrey en sy prokureurs het aan die wêreld gesê hy het nog nooit ’n SOS gehad nie. Hulle het my en Mark as ‘bedrieërs’ uitgekryt omdat ons die teendeel beweer het.

“Ek eis dat hulle onmiddellik die volledige laboratoriumtoetse van 2013 aan die publiek bekendmaak sodat mense kan oordeel wie die waarheid praat en wie leuens verkondig.

“As hulle die volledige Quest Diagnostics-laboratoriumverslag uitreik vir die bloedmonster wat Carrey op 28 Januarie 2013 onder die naam ‘Jose Lopez’ ingehandig het en dit toon hy het nie ’n SOS nie, sal ek die saak onmiddellik laat vaar en verskoning vra.”

– Cover Media

Eerste Europese ondersoektuig land op Mars, maar nou’s dit tjoepstil

$
0
0

Die Europese Ruimteagentskap (Esa) se eksperimentele ondersoektuig het Woensdag Mars se atmosfeer binnegedring en op die Rooi Planeet geland.



Esa ontleed steeds data om vas te stel of die landing suksesvol was en of die tuig neergestort het en vernietig is.

Die Mars-tuig, Schiaparelli, sou reeds om 15:58 land, maar sowat 50 sekondes voor die bestemde tyd is radiokontak onderbreek . Ná twee “verbyvlugte” is geen sein nog opgespoor nie.



Die Schiaparelli het ’n hitteskerm, valskerm en vuurpylaandrywers wat sal help dat dit sonder enige noemenswaardige skade op die planeet kan land. Data wat reeds bekom is, dui daarop dat die hitteskerm en valskerm wel ontplooi het.

Hier is ’n voorstelling van waar die hitte-impak op die tuig die grootste sou wees.

Ten spyte van die radiostilte, word steeds gehoop die Schiaparelli sal eendag ontwaak.

Rusland en Europa werk onder die vaandel van ExoMars-sendings saam aan dié projek.



Terwyl die spanning en onsekerheid rondom Schiaparelli Woensdagaand opgelaai het, was daar reeds ander goeie nuus.

Schiaparelli se “moederskip”, die Trace Gas Orbiter, het ’n wentelbaan bo die planeet suksesvol  binnegedring en die Schiaparelli het intussen ook geland.

Nog oor Schiaparelli
Dit is Esa se tweede sending om ’n  ondersoektuig op Mars te laat land.
In 2003 het Brittanje Beagle 2 gestuur, maar dié tuig kon nie tydens die landing sy sonpanele suksesvol laat oopmaak nie.
Schiparelli weeg 577 kg. Dit sou Mars se atmosfeer teen ’n spoed van 21 000 km/h binngegedring het.

Hier is die volledige mediakonferensie wat Donderdag deur Esa gehou is.

Bronne: linkis.com, esa.int, independent.co.uk, tampabay.com, reuters.com, cbc.ca
Viewing all 9424 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>