Uit ’n dokument wat Woensdag in die hof in Port Elizabeth ter tafel gelê is, blyk dit Christopher Panayiotou en sy besigheidsbestuurder het mekaar gereeld gekontak.
Volgens die telefoonrekord het hy en Estelle Burger tot en met 8 April tot drie keer per dag gekontak. Sy het dit as besigheidsverwant bestempel.
Estelle, ’n besigheidsbestuurder by Nedbank, was regstreeks betrokke by die finansiering van die Panayiotou-familie se onderneming.
Sy het ’n versoek ontvang van Phillip Vosloo, ’n vriend die Panayiotous, om Jayde se selfoonkennisgewings aan te pas sodat dit na Christopher se foon gestuur word, het die hof gehoor. Estelle het haar takbestuurder glo die volgende oggend daaroor gevra.
Op die dag van Jayde se verdwyning het Christopher en Estelle 14 keer oor die foon gesels. Volgens haar het hy haar oor transaksies uit Jayde se rekening gebel.
Die eerste oproep is ná 08:00 gemaak en die laaste een ná 16:00. Estelle het ses keer gebel en Christopher die ander agt.
Die verkeerde foto
Streicher Botha, ’n oudpolisieman wat nou as ’n ondersoekbeampte by Protea Coin werk, het vroeër Woensdagmiddag getuig dis deel van sy werk om indien nodig beelmateriaal aan die polisie te oorhandig.
Op 21 April 2015 het Leon Eksteen van georganiseerde-misdaad-tak hom gebel en gesê ’n vriend van hom se vrou word vermis. Hy het gesê by KwaNobuhle is geld uit haar bankrekening probeer trek.
Met sy aankoms by die betrokke OTM was verskeie polisiemanne, Jayde se pa en ’n vriend reeds op die toneel.
Streicher het glo voorgestel die polisie ondersoek ook twee nabygeleë OTM’s. Christopher het glo by die laaste OTM opgedaag. Streicher het getuig hy kon nie duidelik sien wie die transaksie by die OTM behartig het nie omdat die kameralens dalk vuil was.
Hy het ook gesê die foto wat aan die polisie beskibaar gestel is, is van die verkeerde OTM bekom; Jayde se kaart is nooit by daardie een gebruik nie.
Die veelbesproke foto is dus volgens Streicher se getuienis nie by die regte OTM bekom nie.
Die tyd op die derde OTM was ook verkeerd. Streicher het dit ontdek nadat die man wat later verkeerdelik as een van die beskuldigdes geïmpliseer is, se onttrekkingstrokie gewys het daar is ’n tydsverskil van 20 minute.
Die ander foto is egter nooit van die stelsel afgelaai en aan die staat oorhandig nie. Die beeldmateriaal is ook nou nie meer beskikbaar nie. Dit word volgens Streicher net drie maande lank geberg. Hy het na bewering die ondersoekbeampte ingelig dat die beeldmateriaal te onduidelik sou wees om as bewys te gebruik en het verklaar hy het self daardie besluit geneem.
Lees ook: So is Jayde Panayiotou geskiet
Vroeër vandag
Die man wat weggehardloop het, loop sy rieme in die hof styf
Woensdag het Ntsikelelo Gqirana in die Port Elizbeth-hof in die Jayde Panayiotou-moordsaak getuig. Hy is ’n verlangse familielid van Sizwezakhe Vumazonke, die beskuldigde wat intussen oorlede is. Ntsikelelo is ook die man wat weggehardloop het nadat Sizwezakhe in hegtenis geneem is.
Die twee sou glo die aand van 3 Mei 2015 ’n Floyd Mayweather-boksgeveg gaan kyk het. Maar toe Ntsikelelo besef die geveg gaan veel later plaasvind as wat hy gedink het, het hy by sy meisie gaan kuier. Hy sou later sy meisie, Sizwezakhe en dié se meisie oplaai en neem na die taverne waar hulle die boksgeveg sou kyk.
Op pad daarheen het Sizwezakhe glo ’n selfoon aan Ntsikelelo oorhandig, maar gesê sy meisie moet dit nie sien nie. Hy het dit as ’n soort tabletfoon beskryf.
Ntsikelelo het getuig hy het buite die motor gestaan. Die selfoon was steeds in sy sak toe mense na die motor aangehardloop kom. Hy het iets gehoor wat soos ’n geweerskoot geklink het. Sy eerste gedagte was dat hulle beroof gaan word.
Hy het weggehardloop en toe die boksgeveg gaan kyk. Die volgende oggend het Sizwezakhe se suster hom gevra oor waar dié is. “Ek wou haar die foon gee, maar het daarteen besluit omdat dit baie delikaat is en sensitiewe inligting bevat,” het hy gesê.
Toe hy die suster se huis verlaat, het die polisie hom genader en gesê hy moet die foon aan hulle oorhandig. Hy is saam na die polisiekantoor en wou glo sy eie selfoon terugkry.
Ntsikelelo het getuig hy het die foon twee of drie keer uitgehaal, maar nie gebruik nie. Hy het eers ’n paar dae later knoppies begin druk en gesien die skerm kan aangesit word.
Die beskuldigde Sinethemba Nenembe se prokureur het aangevoer Ntsikelelo jok.
Sizwezakhe is op 7 September 2016 in die gevangenis oorlede nadat hy in ’n koma verval het. Jayde se liggaam is op 22 April 2015 in die veld by KwaNobuhle gevind nadat sy op 21 April ontvoer is.
Bron: News24