Die tonge het begin klap nadat die Villa Rosa-aktrise Therese Benade Maandagaand alleen opgedaag het by die première van die fliek Faan se Trein in Cedar Square, Fourways.
Nou het die nuus gebreek: Haar en Marcus Muller, ’n medeakteur in die kykNET-sepie, se paaie het geskei.
Hulle het saamgewoon en ongeveer sewe en ’n half jaar uitgegaan. Hy vertolk die rol van Stef Joubert en sy die rol van Astrid Wentzel. In die sepie was hul karakters getroud, maar hul paaie het ook geskei.
Volgens bronne na aan die paartjie het hulle in Desember reeds uitgemaak, maar hy het eers onlangs uitgetrek.
In Desember 2012, toe Marcus en Therese én hul karakters nog saam was, het Huisgenoot aan Marcus gevra of hulle nog nie trouplanne het nie.
Hy het gesê dis lekker om net ’n getroude paartjie te speel. “Dis ’n ander dinamiek wat ons na die stel toe bring. Ek kan in ’n toneel iets na haar kant toe gooi wat ’n lekker reaksie kan ontlok.”
- Loren Pienaar