Waar begin ’n mens as jy jou boedelbeplanning aanpak? Geldsake het Erik Troost van African Mutual Trust in die Paarl gevra vir vyf waardevolle wenke.
1. Laat ’n kundige jou testament opstel of nagaan
Kundiges sluit in prokureurs, ouditeurs en trustmaatskappye wat in boedelbeplanning spesialiseer. Hulle kan die uitvoerbaarheid van jou boedel toets.
Dit help byvoorbeeld nie jy maak wonderlike erflatings-planne, maar daar is ’n kontanttekort in jou boedel nie. ’n Kontanttekort kan beteken dat jou bates, soos ’n huis, verkoop moet word om koste en laste te dek – en dan erf niemand die huis nie.
’n Kundige sal saam met jou die boedelplan aanpas soos jou omstandighede verander.
2. Kies eksekuteurs en trustees versigtig
Hierdie mense gaan ná jou dood met jou nalatenskap werk. Enige meerderjarige en bevoegde mens kan as eksekuteur benoem word, maar hy moet goeie kennis van boedelbereddering hê. Dit beteken hy moet ingelig wees oor die wette wat op boedels van toepassing is, soos dié op kapitaalwinsbelasting, boedelbelasting, boedeladministrasie, testamente en huweliksgoedere.
Die meester van die hooggeregshof mag weier om iemand aan te stel wat nie boedelondervinding het nie, tensy dié kan bewys hy word bygestaan deur ’n erkende beredderaar, oftewel agent. Benoem ook ’n plaas-
vervanger vir die eksekuteur in jou testament as jy nie ’n maat-skappy benoem nie.
Dit maak geldelik sin om ’n knap eksekuteur te kies, want jou boedel gaan hom vir sy diens vergoed. Die Boedelwet bepaal dat die eksekuteur die volgende fooie kan hef:
- 3,5 persent op die bruto boedelbates soos op sterfdatum (uitgesluit bates buite die boedel, soos pensioengelde en begunstigde polisse); en
- 6 persent van die bruto inkomste op boedelbates deur die eksekuteur gevorder ná sterfdatum tot afhandeling.
BTW mag net gehef word as die beredderaar ’n geregistreerde ondernemer is. Jy kan oor die vergoeding onderhandel as die eksekuteur ook betrokke is by die boedelbeplanning en opstel van die testament.
Stel minstens een onafhanklike trustee aan om jou trust te bestuur en administreer. Trustees moet byvoorbeeld die trustfondse belê en geld aan die begunstigdes uitbetaal. As daar ’n onafhanklike trustee is, kan hy kyk dat die ander hul werk doen en dat jou begunstigdes die beplande voordele kry.
3. Werk jou polisbegunstigdes by
Maak seker jou polisse en pen-sioenvoordele is soos jy dit wil hê aan mense begunstig.
Dit gebeur byvoorbeeld dat ’n ongetroude mens sy ouers as begunstigdes van ’n lewenspolis benoem. Maar as hy later trou en nie die begunstigdes verander nie, sal die polis met sy sterfte steeds aan die ouers betaal word – testamentbepalings of intestate erfreg ten spyt. Dieselfde geld vir mense wat skei.
4. Hou dié mense op die hoogte
Gee jou eksekuteur ’n lys van alle nodige dokumente en waar dit gebêre word. Oorweeg dit om naasbestaandes van jou testamentbepalings in te lig. Dit vergemaklik die beredderingsproses en skakel moontlike
familietwiste uit.
’n Erfenis is ’n voorreg en nie ’n reg nie, maar dit help as jou erfgename weet wat die inhoud is en dat jy hul voorstelle oorweeg. ’n Kind kan byvoorbeeld ’n familietrust hê en vra dat sy erfenis eerder aan sy trust bemaak word.
5. Sorg vir jou kinders
As jy testamentloos sterf, tree die Wet op Intestate Erfopvolging in werking. Dit bepaal dan wie die erfgename moet wees. Jou minderjarige kinders se erfporsie sal by die voogdyfonds inbetaal word.
’n Trust kan voorsien vir die finansiële toekoms van minderjarige kinders. Maar dis net so doeltreffend soos die trustakte (dokument wat die bepalings uitstippel) – en hiervoor moet jy liefs ’n kundige inspan.
Tref reëlings met die voogde en trustees oor die versorging van jou minderjarige kinders. As erflater moet jy sorg vir voldoende bates en geld om die minderjariges te versorg. Dis nie die voog se plig nie.
Wenk
Op fidsa.org.za kry jy die name van kundige lede van die Fidusiêre Instituut van Suid-Afrika wat testamente kan opstel.