’n Britse paartjie word deur tronkstraf in die gesig gestaar nadat hulle hul kinders uit die skool uitgehaal het om met vakansie te gaan.
Stewart en Natasha Sutherland van Telford het in September 2013 hul drie kinders van onderskeidelik ses, 13 en 15 ’n week lank die skool laat misloop sodat die gesin die Griekse eiland Rhodos kon besoek, berig die Shropshire Star.
Nuwe wetgewing het net voor hul beplande vakansie in werking getree, en die paartjie is ’n boete van R6 480 opgelê omdat kinders nie skool sonder geldige redes mag misloop nie. Nadat hulle versuim het om die boete te betaal, is dit eers na R12 960 en toe R36 000 verhoog.
Die paartjie verskyn nou voor die Telford-magistraatshof en kan tot drie maande tronkstraf opgelê word.
Stewart voer aan hy en sy vrou werk albei lang ure en dat dit die gesin se eerste vakansie die afgelope vyf jaar was.
Volgens die Daily Mail sê Stewart hy “weet hoe belangrik sy gesin se opvoeding is, maar gesinstyd is ook belangrik. Die kinders se akademie en gedrag het baie verbeter sedert ons vakansie.”
Kay Burford van die Telford-stadsraad meen egter die wetgewing is duidelik en dat enige tyd weg van opvoeding, steurend is vir ’n kind se ontwikkeling.
“Daar is geen outomatiese reg op verlof tydens die skoolkwartaal nie. Onderwysers mag nie verlof toestaan tensy daar nie uitsonderlike omstandighede is nie.”
Sal jy toelaat dat jou kind toelaat skool misloop? Vertel ons op Facebook.
- Mieke Vlok