Ons almal was in ’n situasie waar iemand effens verstik het. Maar hoe gemaak wanneer iemand in jou geselskap se lewe werklik in gevaar is weens iets wat hul lugweg blokkeer. Die noodwerkers van Crisis on Call (www.crisisoncall.co.za) vertel hier wat jy dan moet doen. Hou dit byderhand, want jy kan iemand se lewe red.
Verstikking
Wat is die tekens dat iemand verstik?
Wanneer die persoon se keel net gedeeltelik geblokkeer is, sal hy nog kan hoes en proes.
Maar wanneer hy glad nie kan asem kry nie, sal die persoon
- na sy keel gryp
- angstig en verbaas lyk
- se gelaatskleur blouerig vertoon
- eindelik sy bewussyn verloor.
BEHANDELING: Hoe behandel ek iemand wat gedehidreer is stap-vir-stap?
As die persoon kan praat, hoes of huil, moet jy hom/haar aanmoedig om daarmee voort te gaan. Hou die persoon so kalm as moontlik.
As die persoon nie kan praat, huil of hoes nie, doen die volgende:
- Ontbied die nooddienste
- Vra die persoon om sy mond oop te maak. As jy die voorwerp kan sien, verwyder dit met jou vingers.
- As die voorwerp onsigbaar is, moenie jou vingers in die mond insteek nie. Jy kan dalk die voorwerp onwetend dieper indruk.
- Moenie iemand wat ouer as een jaar oud is op die rug slaan nie. Dit kan die voorwerp nog stewiger laat vassit.
Heimlich-maneuver vir persone vanaf geboorte tot een jaar oud:
- Hou die baba oor jou voorarm met die gesig na onder en gee vyf harde houe met die palm van die hand tussen die skouerblaaie
- Draai die baba om en dien vyf borskas drukke met die palm van die hand/of die vingers toe. Trek ’n streep tussen die twee tepels en druk op die borsbeen net onder hierdie streep.
- Kyk in die mond of die obstruksie losgekom het. As dit in die mond lê, verwyder dit met jou vingers.
- Indien nie, herhaal die prosedure tot die obstruksie losgekom het en in die mond is.
Heimlich-maneuver vir persone ouer as een jaar oud:
- Staan agter die persoon en sit jou arms om die persoon se middel onder die borsbeen en vat jou hande voor vas. As die persoon swanger of baie groot is, skuif jou arms hoër op tot jou arms om die persoon kan gaan.
- Maak ’n vuis teen die persoon se lyf.
- Gryp die vuis met u ander hand vas en gee vier vinnige kragtige inwaartse en opwaartse drukke.
- Herhaal ses tot 10 keer tot die lugweë skoon is.
- As die persoon sy bewussyn verloor, lê hom op sy rug neer en hurk oor hom.
- Dien vier vinnige, kragtige opwaartse houe toe met die palm van jou hand net onder die borsbeen. Hou die elmboë reguit.
- Draai die persoon se kop sywaarts en kyk of die voorwerp losgekom het.
- Herhaal tot die lugweë skoon is.
Heimlich-maneuver op jouself wanneer jy alleen is:
- Leun vooroor oor ’n stoel met ’n regop rugleuning.
- Plaas jou vuiste net onder jou borsbeen.
- Val neer op die stoel sodat jou vuiste met ’n opwaartse beweging op die abdomen druk.
Persone wat hul bewussyn weens verstikking verloor het, moet altyd deur ’n dokter gesien en ondersoek word.