As jou energie ná ’n dag van kook agter die Kerspotte getap is en daardie volgende dag nog potte vol oorskiet oor is, kan jy die familie nogtans bederf met ’n feesmaal. Hier is raad van Huisgenoot en YOU se kosredakteur, Carmen Niehaus.
Varkboud
Sny die vleis in repies. Braai saam met ui en knoffel in bietjie olie tot die ui sag is. Voeg ’n lepel of twee basiliepesto by en roer deur pasta. Sprinkel parmesaankaas oor.
Kerspoeding
Krummel die poeding, voeg fyn appelkooskonfyt by en rol in bolletjies. Doop in gesmelte sjokolade en gekapte neute. Sit voor as truffels saam met koffie.
Koekstruif
Skep die koekstruif in ramekinbakkies of klein tertpannetjies en besprinkel met ’n bietjie sjerrie. Skep ’n bol roomys bo-op as jy wil. Maak ’n meringue deur drie eierwitte met sowat 125 ml (½ k) strooisuiker styf te klop en skep bo-op die tertjies. Rooster vinnig onder die roosterelement van die oond tot effe bruin buite-om.