Haar kêrel se jaloesie en drang na oorheersing was die laaste strooi in hul verhouding, skryf Zelda la Grange, wat vir ons blog oor geweld teen vroue en kinders.
HY WAS van dag een af mal oor my. Ek het dit ’n ruk lank geniet, maar ek was nog altyd inherent wantrouig teenoor mense wat te veel van my hou. Dis nie dat ek ’n slegte selfbeeld het nie; ek is net ’n realis.
Aanvanklik het ek die aandag geniet, maar toe het hy my doen en late begin dophou. Ek sou koffie saam met ’n mansvriend drink en hy sou my heeltyd bel oor iets wat sogenaamd belangrik is.
Hy het my elke paar minute gebel en ná ’n paar weke was daar baie min oor om oor te gesels, want ons was heeltyd op die telefoon. Ek het ingehok begin voel en my weerstand het tot argumente gelei.
My vriende het my gewaarsku dat hulle nie van hom hou nie. Een keer by ’n geleentheid het hy my beste mansvriend byeenkant geneem en hom vertel dat as hy ooit met my sou mors, daar moeilikheid sou wees.
Dit was die laaste strooi. Ek kan dit nie verdra om deur iemand beheer te word nie!
Al die rooi ligte het geflits en as ek nou terugkyk, is ek trots om te sê ek kon uit die situasie wegstap.
Die wonderlike ding is dat ’n mens dalk gekneus voel wanneer jy uit so ’n verhouding padgee, maar nadat ’n bietjie tyd verloop het verander daardie kneusplekke in letsels van oorwinning.
- Zelda
Zelda la Grange blog tot 10 Desember elke weekdag vir ons tydens die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Dié bekende en gewilde vrou werk steeds as Madiba se persoonlike assistent vir die Nelson Mandela-stigting en hou ook motiveringspraatjies. Sy is aktief betrokke by projekte soos Bikers for Mandela Day en Sisters with Blisters in haar rol as beskermvrou van die 1st for Women Insurance-trust. Een van haar lewensdoelstellings is om SA vroue te help bemagtig