Ná nege maande van aanlyn vry weet ons verhoudingsblogger Erla nou baie goed wat ’n man alles in ’n vrou soek . . .
WAT soek mans? Net soos ons Prins Sjarmant soek, soek hulle Aspoestertjie. Wat natuurlik meer “As” is as ’n tasbare werklikheid.
Noudat ek al byna nege maande aan ’n liefdesoekwebwerf deelneem, word die prentjie ál duideliker – ’n man soek ’n vrou met mooi geverfde naels.
Moenie my vra hoekom nie.
Die hoeveelheid mans wat al op my tone gereageer het, is te veel om, wel, op my tone te tel. Hul hou van goed versorgde voete, want dan is die res goed versorg, het een man gesê, en hulle hou van ligte, helder naellak. Dis seker meer tradisioneel vroulik as swart, bruin en donkerpers.
Mooi, sagte hande is ook altyd wenners, en die meeste mans oe en aa oor ’n Franse manikuur, waar die naels wit en die naelbed pienk geverf is. En weer eens kan jy my ’n prys gee as ek weet hoekom.
Hierdie een sal nie vir jou ’n verrassing wees nie: Mans hou van borste. Rondings en bultings en mooi onderklere. En onthou, as jy ’n man wil verlei of hom twee voor wil wees, dra altyd ’n sexy hemp of rok wat met jou rondings spog – want dit is wat ’n man sien as hy oorkant jou by ’n tafel sit.
Mans hou meer van rokke as van broeke. Dis seker maar weer die vroulike ding. Dit pas my natuurlik ook, want ek lyk maerder in ’n rok as in ’n broek.
Ek het al met mans uitgegaan wat selfs raaksien as my wenkbroue pas gepluk is – mans is meer oplettend as wat ’n mens dink – en soos baie vroue ’n man oppervlakkig meet aan die motor waarin hy ry, so meet mans vroue aan hul voorkoms en die versorging daarvan.
Ek lees nou die dag ’n blog van ’n ander vrou wat ook op ’n liefdesoekwebwerf is en kla dat al die onkostes wat sy moet aangaan om haarself te versorg omtrent hoog is. En sy is reg. Dis hare, en naels en klere en dalk selfs gim toe gaan. Is dit onregverdig? Chauvinisties? Nie noodwendig nie.
Dis dikwels die mans wat moet uithaal en betaal op ’n afspraak. En die vroue meet die mans aan hul status en inkomste en vermoë om te sorg. ’n Man met ’n klein bankbalans is vir baie vroue net so ’n swak belegging as wat ’n groot vrou weer vir sommige mans is. Ja, dis vlak, maar dis die werklikheid: Arm mans en oorgewig vroue gaan nie oorval word deur afsprake nie.
So van oorgewig gepraat: Ek is nie maer nie, en vind dat mans wel van kurwes hou. En meer mans hou van intelligensie as wat jy sou dink – solank jy nie slimmer is as hy nie, want dan verloor hy so gou belangstelling as wat jy kan sê IK.
Die grootste verrassing vir my is hoe baie mans oënskynlik na liefde smag. Na iemand wat hul aanvul en vervul – spesifiek die ouer mans wat al deur ’n egskeiding of twee is.
Want agter die naels en die rok en die rondings klop ’n hart – en dis wat almal soek.
- Erla
Erla-Mari Diedericks blog vir Huisgenoot oor verhoudings, liefde en die ervarings van ’n volwasse enkellopende die era van internet-afsrake. Sy is die skrywer van die suksesvolle Sin, Sushi & Survival en haar nuutste roman, Still Standing, is tans in winkels landwyd beskikbaar sowel as by kalahari.com. As jy ook ’n storie in jou onderste laai het, skryf gerus in vir Erla se aanlyn-skryfkursus by http://www.learninggroup.co.za/online-creative-writing-course.php
* Stel jy belang in aanlyn-ontmoetings? Gaan na Huisgenoot se ontmoetingsportaal by http://www.pasmaats.co.za/s/