Jack Osbourne sê hy het sekere goed vir sy ma, Sharon, weggesteek omdat sy slegte nuus swak hanteer en ’n “emosionele wrak” word.
Jack (28), by wie veelvuldige sklerose verlede jaar gediagnoseer is, het erken hy moes geheime van sy ma hou weens haar onlangse huweliksprobleme met haar man, Ozzy.
“Ek het baie goed geheim gehou omdat sy so ’n emosionele wrak raak wanneer ek haar vertel,” het hy aan die Sunday Mirror gesê. “Sy is ’n regte tiermamma, maar dit werk net as sy kan funksioneer. As ek vir haar enige slegte nuus gee, stort sy ineen.”
Die werklikheidster wie se vrou, Lisa Stelly, die lewe aan hul eersteling geskenk het voor sy diagnose verlede jaar, wou hom nie te veel oor sy ouers se verhouding uitlaat nie, maar het erken hy kan hom nie voorstel dat hulle nie saam is nie.
“Dit was ’n baie moeilike jaar. Ek wil nie uitwei oor wat my ouers deurgemaak het nie, want dis hul saak. Dis moeilik om my ’n wêreld voor te stel waarin hulle nie saam is nie.”
Jack het gesê die familie is nou sterker, en sy siekte het hulle gehelp om hul prioriteite agtermekaar te kry. “’n Jaar soos hierdie kan jou uitmekaar laat dryf of sterker maak; wat die Osbournes betref, het dit ons nog sterker gemaak. My siekte het ons laat besef hoe broos ons almal is en ons perspektief gegee. Wanneer ons almal saam is, is ons ’n stam en alles verloop glad; dis gek.”