Koningin Elizabeth is op soek na ’n leerling-butler nadat hul vorige butler se werkpermit onlangs verval het.
Badar Azim, van Kolkatta in Indië, moes Engeland verlaat kort nadat hy gekies is om die amptelike aankondiging van die geboorte van Elizabeth se agterkleinkind, prins George, op ’n esel voor Buckingham-paleis te plaas.
Die koninklike familie is nou op soek na ’n plaasvervanger vir hom. Hulle het op die Britse monargie se webtuiste ’n advertensie geplaas vir “’n goed gemanierde mens met ’n vriendelike, oop geaardheid, en wat die vermoë het om vertroulikheid te handhaaf”.
Die pos vereis dat die aansoeker 45 uur per week werk en bied ’n jaarlikse salaris van R240 000 aan. Voordele soos behuising is ingesluit.
Die advertensie is vir ’n pos in die Buckingham-paleis, maar noem dat die aansoeker “bereid moet wees om te reis en by ander koninklike wonings in die VK te werk, waar jy ’n wye reeks verantwoordelikhede sal hê, van boodskappe oordra en valetdienste tot die bediening van kos en drank”.
Badar wou in die Verenigde Koninkryk aanbly, maar is teruggestuur na sy vaderland, waar hy nou saam met twee broers en vyf ander familielede in sy ouers se tweevertrekhuis woon.